Nog ‘n week van wag vir Ekurhuleni se eerste burger

binary comment

Doreen Mokgolo

Ekurhuleni gaan nog sewe dae moet uithou voordat die volgende burgemeester verkies kan word, nadat ‘n chaotiese raadsitting Woensdag uitgestel moes word.

Die Gautengse munisipaliteit is leierloos sedert verlede week, nadat die DA se Tania Campbell laas Donderdag deur ‘n mosie van wantroue uitgeskop is.

Die Stadsraad se vergadering moes Woensdag ‘n nuwe eerste burger verkies het, maar dis laat vaar nadat die sitting ontwrig is deur ‘n versoek van die EFF en ANC om te koukus.

Joe Mojapelo van die Independent Citizens Movement, saam met ‘n handvol ander politieke partye, het voorgestel dat die bymekaarkoms tot ‘n latere datum uitgestel word.

Speaker van die raad, Raymond Dhlamini, het gesê hy moet die vergadering verdaag op grond van raadsprosesse, en dat hy nie in Ekurhuleni ‘n herhaling wou hê van wat in Johannesburg gebeur het nie.

In Johannesburg het die Gautengse Hooggeregshof ‘n vergadering wat gestem het om DA-burgemeester Mpho Phalatse te verwyder, verklaar as onwettig, ongrondwetlik en ongeldig, en die burgemeester is heraangestel.

In Ekurhuleni, “toe die vergadering veronderstel was om hervat te word, was van die raadslede nie terug in die raadsaal nie, so ons moes die sitting verdaag en uitstel na ‘n latere datum,” het hy verduidelik.

ANC Gauteng-voorsitter Panyanya Lesufi het bevestig dat onderhandelinge met die EFF aan’t klaarmaak is.

“Die gesprekke is robuus, maar ons het besluit om mekaar halfpad te ontmoet; ons wag net vir die partyhoofde om dit waaroor ons ooreengekom het goed te keur.

“Die ANC sal nie meeding vir die burgemeestersposisie nie en sal in hierdie geval saam met die EFF stem,” het hy gesê.

Hy het egter geweier om bespiegeling te bevestig dat die ANC hul gewig agter die EFF in Ekurhuleni sal gooi in ruil vir die burgemeesterspos in Johannesburg, sodra die ANC ‘n mosie van wantroue teen die sittende DA-burgemeester indien.

ANC voorsitter in Ekurhuleni, Mzwandile Masina, het bevestig dat hy nie vir die pos van burgemeester sal meeding nie ná gerugte dat die Ekurhuleni-streek hom voorgestel het om vir die pos te staan. 

“Ek sal nie staan ​​of enige posisie aanvaar nie, maar sal aanbly as ‘n gewone lid van die raad,” het hy gesê.

Die DA leier van die opposisie in die Gautengse Wetgewer, Solly Msimango, het bewerings weerlê dat daar onstabiliteit in die veelpartykoalisie is, en dat ActionSA beoog om sy eie burgemeesterskandidaat daar te stel.

“Ons is nie bewus van sulke voornemens nie, aangesien ons almal gisteraand saamgestem het dat Tania Campbell ons burgemeesterskandidaat is. 

“ActionSA het nie so ‘n aankondiging aan ons gemaak nie en soos dinge nou staan, sit ons almal steeds om dieselfde kampvuur,” het hy bygevoeg.

Hierbo: Speaker van die raad Raymond Dhlamini

Foto: Doreen Mokgolo