Bose bedrogspul ‘n bitter pil vir pitbulls en hul base

Buziwe Nocuze

‘n Sosiale mediaplasing wat beweer dat dit sy oorsprong by die regering het, bied ‘n beloning van R1,500 aan vir enigiemand wat huise rapporteer waar pitbull-terriërs aangehou word. Maar hierdie gevaarlike bedrogspul stel beide die honde en hul eienaars in gevaar.

Die sosiale media-rekening wat hom voordoen as die Nasionale Raad van Verenigings vir die Voorkoming van Dieremishandeling het ‘n plasing gedeel wat die prysgeld aanbied.

Die swendelaars sou dan die inligting gebruik om die eienaars te nader en hul honde te konfiskeer.

Pitbull-eienaars sê nou hulle vrees vir hul lewens en dié van hul honde, want hulle word deur mense oorval wat desperaat is vir die geldelike beloning.

Monwabisi Zonke – ‘n pitbull-eienaar in Nyanga, Kaapstad – het opgehou om sy hond vir uitstappies te vat.

“Mense kyk my in die oë en sê hul benodig my hond om die beloning te verkry,” het Zonke gesê.

“Mense het geld nodig en is in staat tot enigiets om dit in die hande te kry. Nie ons of ons honde is veilig nie. Wie ookal daardie kennisgewing geplaas het, kom ons te na omdat ons vir ons honde omgee.”

Nothemba Sapepa van Khayelitsha is mal oor pitbull-terriërs omdat hulle haar teen misdadigers beskerm.

“Ons bly in ’n gevaarlike buurt en ek het pitbull-honde om my te beskerm, maar sedert daardie plasing sien ek ‘n slinkse spul wat langs my erf rondhang,” het sy gesê.

“Ek verstaan ​​dat hierdie soort honde onskuldige mense doodgemaak het, maar ons kan nie vir andere se foute gestraf word nie. Pitbulls is liefdevolle diere. Hulle moet net deurentyd versorg word.”

Neliseka Mgojo hoop die pos is eg.

“Ek is moeg vir pitbull-eienaars,” het sy gesê.

“Hulle pronk rond met hul honde al weet hulle goed hoe gevaarlik die diere is, en hul weet nie hoe om vir hulle te sorg nie.”

Selfs al is die pos ‘n bedrogspul, wil sy hê die regering moet dit as amptelik bevestig.

“Hulle het die publiek se reaksie gesien en moet hierdie plasing staaf om almal van ons tot redding te kom,” het sy gesê.

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (DBVs) het die sosiale media-plasing veroordeel.

“Mense maak of hulle DBV-personeel is en eis dat eienaars hul pitbulls aan hulle oorhandig. Dit is ook ‘n bedrogspul,” het die dierewelsynsorganisasie in ‘n verklaring gesê.

“Die DBV loop nie van deur tot deur en eis dat mense hul pitbulls opgee nie. Moenie jou diere aan onbekende mense oorhandig nie.”

Hulle het gesê as mense om watter rede ookal nie na hul diere kan omsien nie, moet hulle direk na hul plaaslike DBV of dierewelsynskuiling geneem word.