Lungani Zungu
Toe laerskoolleerlinge in Umlazi, suid van Durban, verlede week terug is huis toe, was die seuntjies se ouers geskok om uit te vind dat hul kinders sonder hul toestemming besny is.
Een van die Graad 7-leerlinge van Laerskool Inkongozelo is ná die operasie in die hospitaal opgeneem.
Die besnyde kinders was almal tussen 10 en 12 jaar oud – en dis teen die wet om sulke jong seuns te besny sonder ‘n regmatige mediese of godsdienstige rede.
Thandeka, die ma van die kind wat Saterdag hospitaal toe is, het aan Scrolla.Africa gesê die wond wat haar 12-jarige seun toegedien is, toon geen tekens van herstel nie.
“Ek is woedend, want niemand het vir ons gesê ons kinders gaan besny word nie. My kind is baie olik in die hospitaal, en nie een van die onderwysers lyk of dit hulle traak nie,” het sy gesê.
Hy word tans in die Prince Mshiyeni Gedenkhospitaal in Umlazi behandel.
Die leerling het erg gebloei ná hy verlede week besny is.
Sy ma het gesê hy kon beswaarlik loop.
“Toe ons sien dat hy niks beter voel nie, het ons hospitaal toe gegaan en hy is daar opgeneem,” het Thandeka gesê.
Sy toestand is so ernstig dat hy sedert Saterdag steeds in die hospitaal versorg word.
Hy bloei al sedert die dag waarop hy verlede week besny is.
Ander leerlinge sukkel om behoorlik te loop, meen sommige ouers – wat nou die koppe wil laat rol.
“My kind se pyn is ‘n gevolg van die nalatigheid van onderwysers, wat besluit het om ons kinders te besny sonder ons as ouers se toestemming,” het ‘n ouer gesê wat anoniem wou bly.
Scrolla.Africa het met sommige ouers gepraat wat gesê het hulle het nie toestemming gegee dat hul kinders besny word nie.
Volgens ouers is die kinders besny in ‘n kliniek in Umbilo, naby Durban sentraal.
Die departement van onderwys in KwaZulu-Natal het gesê hulle sal die saak ondersoek.