Rof en onbeskof: Nota kla Black Coffee sit Boere op sy spoor

Dylan Bettencourt

‘n Bekgeveg tussen die rapper Nota Baloyi en DJ Black Coffee het kookpunt bereik toe Baloyi die Grammy-pryswenner onlangs op Twitter gedreig het.

Baloyi het beweer dat Black Coffee die polisie ontbied het om hom “op te dons”. In ‘n verdere sensasionele uitspraak het hy die DJ daarvan beskuldig dat hy Vervoer-minister Fikile Mbablula vra om al sy “vuilwerk” vir hom te doen.

“Black Coffee moet ook uitkyk vir ‘n bietjie aksie nadat hy die polisie gestuur het om my op te dons. Ek stuur nie mense nie, ek daag op en kyk jou in die oë,” het die Uganda-gebore rapper op Twitter geskryf.

Hy het dié opgevolg met ‘n dun-versluierde dreigement vir die wêreldberoemde DJ.

“Dit is ‘n lang somer, wie weet wanneer ek hom sal trompop loop, soos vir Sol Phenduka terwyl ek ‘n Americano by Starbucks geniet het!”

Dis welbekend dat Baloyi die musikant Phenduka in Augustus by ‘n Starbucks in Johannesburg gekonfronteer het.

“Jul idool Black Coffee is gewaarsku. Dis slag op sig wanneer ek hom sien. Hy sal saam met Stogie T moet weghol Oostenryk toe wanneer ek klaar is met hom,” het Baloyi gesê.

“Ek sal eiehandig swart-op-swart polisiebrutaliteit in Suid-Afrika beëindig, liefs as om dit soos Black Coffee op ander te bestel, omdat hy te swak is om sy eie gevegte aan te vat. Hy kry Mbalula Fikile om sy vuilwerk te doen!” het Baloyi verder getwiet.

Verskeie Twitter-gebruikers het egter vir Baloyi daarvan beskuldig dat hy hom die vete met Black Coffee verbeel bloot om aandag te trek.

“Jy probeer aandag kry van mense wat nie in jou belastingklas is nie. Daar is verskillende vlakke hier. Jy moet daal na mense op jou vlak soos N’veigh, Zinga en Nutty Rockstar,” het een gebruiker geskryf.

Nog ‘n gebruiker het Baloyi daarvan beskuldig dat hy die polisie uitgelok het, en ‘n twiet van Baloyi gedeel waar hy in verskeie foto’s langs ‘n polisievoertuig verskyn met die opskrif: “F*ck the police.”

Baloyi het ook onlangs ‘n video gedeel van ‘n argument tussen hom en twee polisiebeamptes, waarin hy beweer hy het hulle betrap terwyl hulle “die wet oortree”.

In die video sien mens hoe die rapper die name van die beamptes uitroep terwyl hy op hulle vloek, en die argument al hoe rowwer raak.

Baloyi het weer gepoog om die reg in eie hande te neem deur aan Mpho Phalatse, burgemeester van Johannesburg, te skryf en te verduidelik dat hy by ‘n onwettige padblokkade moes inmeng, omdat beamptes probeer het om “maandeindrekeninge” te betaal.

“Geagte burgemeester Mpho Phalatse, mag ons metropolisie hê wat die Padverkeersbestuurswet nakom? Die Joburg Metropolisiedepartement slaap wanneer hulle moet werk,” het hy geskryf.

“Hierdie jafels het ’n onwettige padblokkade uitgevoer om maandeinde rekeninge te betaal in plaas daarvan om verkeer op Rivonia en Witkoppen te beheer, totdat ek ingegryp het.”

Hierbo: Nota Baloyi

Bron: @TimesLive