Davido staan sy Ifeanyi, 3, aan dood af

QueenEsther Iroanusi

Die Nigeriese sanger Davido het sy driejarige seuntjie, Ifeanyi, verloor.

Die kleuter het verdrink in ‘n swembad by die gesin se Banana Island-huis.

Die hartseer nuus van Ifeanyi se dood is Maandag op die internet laat lek toe die aktrise Eniola Badmus ‘n aankondiging op Instagram geplaas het. Sy het later die boodskap uitgevee.

Die polisiewoordvoerder in Lagos-staat, Benjamin Hundeyi, het Dinsdagoggend die dood van die sanger se seun bevestig en gesê dat agt lede van die huis se personeel ondervra word.

Ifeanyi was glo ure lank onder die water voordat hy ontdek en onmiddellik na die hospitaal gehaas is. Hy is dood verklaar met aankoms.

Sy ouers, Davido – regte naam David Adedeji Adeleke – en sjef Chioma Rowland, was na bewering aan’t reis in die suidweste ten tyde van die tragiese voorval.

Hudeyin het Dinsdagoggend in ‘n telefoongesprek met Premium Times gesê dat van die sanger se assistente en personeel in hegtenis geneem is.

“Agt van hulle (werkers) is vir ondervraging ingebring.”

Hy het nie die ligging bekend gemaak nie omdat hy bang was dat mense die polisiestasie sou beleër. Hy het bloot gesê dis ‘n stasie op Lagos-eiland.

Davido en Chioma Rowland het nog nie die tragedie in die openbaar aangespreek nie. Davido se platemaatskappy, 30BG, het ook nog nie ‘n verklaring uitgereik nie.

Beroemdes en bewonderaars van die musikant reageer egter met skok en ongeloof op die nuus van die seun se heengaan.

Bekendes soos Iyabo Ojo, Ay the Comedian, William Uchemba en Paul Okoye het hulself op sosiale media oor die tragiese nuus uitgespreek, en hul medelye aan die treurende familie oorgedra.