Buziwe Nocuze
Dis reeds twee jaar sedert die gemeenskap van Mandalay buite Kaapstad, keelvol vir misdaad, ‘n voetgangerbrug gesluit het wat eens hul woonbuurt met Lower Crossroads verbind het.
Misdadigers van die naburige township het uitgevind dat die brug oor die R300-snelweg hulle van ‘n vinnige ontsnaproete voorsien het, nadat hulle Mandalay inwoners beroof het.
Nou vra die mense van Lower Crossroads dat die brug weer oopgestel word. Hulle sê dat die lewe baie gevaarliker geword het sedert die sluiting van die brug.
Voor die brug gebou is, is “baie mense deur motors raakgery terwyl hulle probeer het om die R300 oor te steek. Nou is ons terug waar ons begin het, aangesien die voetgangerbrug gesluit is,” het een inwoner gesê.
‘n Mandalay inwoner se teenargument was: “Ons het ‘n baksteenmuur gebou en ysterstawe vasgesweis omdat ons sat was daarvoor om misdadigers agterna te sit wat ons waardevolle besittings geroof, en dan na die ander township toe gehardloop het.”
Nog ‘n gemeenskapslid in Mandalay het gesê hulle voel jammer vir mense wat gedwing is om die hoë-spoed verkeer te trotseer terwyl hul van een buurt na die ander beweeg.
“Ons weet die brug is aangevra omdat mense wat die snelweg oorgesteek het deur motors omgery is, maar ongelukkig was blokkering van die brug die enigste oplossing.”
Inwoners van Lower Crossroads het gesê hulle is ontevrede met die Mandalay-gemeenskap se optrede, en dat die besluit nie met hulle bespreek het nie.
“Om die voetgangerbrug te blokkeer was wreed. Hulle het nie eens die moeite gedoen om met ons daaroor te praat nie, en ignoreer die feit dat ons nog nooit iemand gestuur het om hulle te beroof nie.”
Inwoners van Lower Crossroads het aan Scrolla.Africa gesê hulle het hard moes swoeg vir die brug.
“Voordat die brug gebou is, het ons baie geliefdes verloor. Die ongelukke het afgeneem die oomblik toe dit gebou is. Nou word mense byna elke dag deur motors raakgery,” het een inwoner gesê.
“Ons hoor Mandalay-inwoners hou ‘n oog oor almal wat naby die brug kom, en dat daar vergelding sal wees as ons dit waag oopmaak. Ons hoop die Stad sal die regte ding doen en dit oopmaak.”
Jandre Bakker, ‘n woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, het die brug se sluiting veroordeel.
“Die sluiting kom neer op vernielsug en die vernietiging van staatseiendom,” het hy gesê.
“Die gepaste roete vir mense om te volg sluit in wetstoepassingsagentskappe soos die SAPD, Gemeenskapsveiligheid, gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en munisipale wetstoepassing.”
Hierbo: Die voetgangerbrug tussen Mandalay en Lower Crossroads is gesluit.
Foto: Buziwe Nocuze