Lungani Zungu
Inácio Lula da Silva, alombekend as Lula, het ‘n ongelooflike terugkeer gemaak as president van Brasilië.
Op die ouderdom van 77 word Lula die 39ste president nadat hy Jair Bolsonaro in Brasilië se hoogsomstrede presidentsverkiesing verslaan het. Hy het 50.9% van die stemme verkry teenoor Bolsonaro se 49.1%.
Teen Dinsdagoggend het Bolsonaro – die verregse kandidaat en heersende staatshoof – nog nie sy nederlaag erken nie.
Na vier jaar aan die stuur word Bolsonaro se nalatenskap gekenmerk deur aangehoue ontkenning van beide Covid-19 en klimaatsverandering. Op albei fronte het hy sy eie mense én die wêreld se bevolking onmeetbare skade berokken.
Covid-19 het die lewens van byna 700,000 Brasiliane kortgeknip – die tweede meeste op die planeet, met die VSA in eerste plek.
En terwyl hy gesigmaskers bespot en inperkings teengestaan het, het hy ook ‘n offensief teen die Amasone-reënwoud gelei, met tragiese resultate.
Ontbossing het tydens sy bewind tot so mate toegeneem dat daar geskat word Bolsonaro het ‘n groter hand gehad in die versnelling van klimaatsverandering as enige ander persoon in menseheugenis.
Tydens sy veldtog om die heilige reënwoud vir wins te vernietig, is algehele inheemse gemeenskappe uitgewis, klimaatsaktiviste vermoor, en honderde spesies tot uitwissing gedryf.
Lula, aan die ander kant, het beloof om die reënwoud te beskerm en ondersteuning te verleen aan aktiviste en inheemse mense wat hul lewens op die spel plaas vir die planeet se behoud.
Dit sal Lula, wie van 2003 tot 2010 die amp beklee het, se derde termyn as president wees.
Nog ‘n faktor wat Lula se terugkeer tot die tuig so eenmalig maak in wêreldpolitiek, is die feit dat hy in 2017 vir nege jaar tronk toe gestuur is.
‘n Jaar later, in 2018, is sy vonnis deur die Federale Streekshof tot 12 jaar verleng.
Hy het egter ‘n broodnodige reddingsboei gekry toe die appèlhof sy vonnis in 2019 omgekeer het.
Dit het gespruit uit ‘n ondersoek in 2016 vir sy beweerde betrokkenheid by twee sake verbonde aan ‘Operasie Karwas’, wat korrupsie aan die lig gebring het tussen die staatsbeheerde olie- en petrolmaatskappy Petrobrás en verskeie konstruksiemaatskappye.
Brasiliaanse politici was ook in hierdie morsige web vasgevang.
President Cyril Ramaphosa het Lula in ‘n verklaring gelukgewens.
Hy het gesê hy sien daarna uit om sterk bande te smee met die regering van Brasilië, wat nou weer Lula se leierskap geniet.
Ramaphosa het bygevoeg dat Suid-Afrika en Brasilië op verskeie vlakke saamwerk, insluitend BRICS en deur talle meganismes tussen lande, streke en wêreldwyd.
Hierbo: Brasilië se nuutverkose president, Lula da Silva