KASI GEMMERBIER MAAK KAAPSTAD KATOOLS

Buziwe Nocuze

’n Nuwe gier vir ’n tuisgebroude gemmerbier is besig om Kaapenaars seksmal te maak.

Nes gewone gemmerbier is dit goedkoop en kalmerend en pas dus die sak.

Maar hierdie drankie, vervaardig en verkoop in ‘n Kaapse informele nedersetting, is geen gewone gemmerbier nie.

“Dit maak ons ​​heeltyd bronstig,” het die 40-jarige Nosisa gesê. “Nadat jy dit gedrink het, het jy seks op die brein.”

Die bier se verkopers is bepaald bewus van die drange wat die drankie ontketen, en bied kondome en ‘n spaarkamer aan vir kliënte se gebruik.

‘n 52-Jarige man het dit tydens die grendelstaat begin drink. “Toe die drankwinkels gedwing is om te sluit weens Covid-19-regulasies, was ons aan gemmerbier oorgelaat. Dit was die eerste keer dat ek dit gedrink het, en ek het nog nooit weer teruggekyk nie.”

Hy sê ‘n liter kos jou R10, terwyl die dorstigstes ‘n vyfliter-bottel vir R50 kan aanskaf.

“Dis moeilik om nugter te bly as jy daar soveel goed om jou aangaan. Dit is gevaarlik, maar dis al wat ons kan bekostig,” sê hy.

Die drank se bestanddele is ‘n goedbewaarde geheim. Al wat die brouers beken is dat daar gemmer en alkohol betrokke is.

Maar ten spyte van die drank se ooglopende voordele, sê die man daar’s nadele ook.

“Ons is mal daaroor en drink dit graag, maar die enigste ding wat ons daarvan haat is dat dit mens in die middel van die nag sal wakker maak om badkamer toe te hardloop, want dit veroorsaak diarree.”

Hy sê dit maak dinge bietjie makliker as mens kaal slaap, sodat jy reguit toilet toe kan hardloop wanneer die nood druk.

Scrolla.Africa het een van die huise in ‘n Kaapstadse informele nedersetting besoek waar hierdie gemmerbier verkoop word.

In die agterjaart is daar ‘n leë hut en kondome. Die eienaar sê sy het die spaarkamer gebou vir kliënte om ‘n vinnige knippie in te kry, want sy ken hul gedrag wanneer hulle dronk is.

“Ek vat nie net hul geld nie,” het sy gesê, “maar is ook besorg oor hul gesondheid en behoeftes.”

Sy koop gemmerbierpoeier by ‘n nabygeleë winkelsentrum en sê sy voeg ‘n blou gis by wat by die bakkery gebruik word, saam met suiker en water. Die mengsel is binne 24 uur gereed.

’n 30-Jarige vrou het aan Scrolla.Africa gesê sy het gewig verloor nadat sy die gemmerbier gedrink het. “Vandat ek dit begin drink het, het ek my eetlus verloor. Ek het aptyt vir niks behalwe liefdemaak nie.”

Sy sê dit vat net twee glase vir een mens om dronk te word.

“Ons het nie geld vir duur alkohol nie, maar ons stres nie daaroor nie, want ons word dronk as ons die gemmerbier drink,” het sy gesê.