Geen water of elektrisiteit vir Gqeberha se bejaardes, gestremdes

Anita Dangazele

Wat eers na ‘n gelukskoot gelyk het, het in ‘n nagmerrie verander vir ‘n 89-jarige gogo en honderde ander inwoners van Rolihlahla in Gqeberha.

Die inwoners, hoofsaaklik pensioenarisse en gestremdes, is in Oktober 2020 vanuit verskillende oorvol townships rondom Gqeberha verskuif uit vrees dat hulle maklik besmet sou word toe Covid-19 hoogty gevier het.

Destyds is die gogo’s en hul gesinne in 150 voorafvervaardigde eenhede gevestig – baie beter as huthuise, maar sonder lopende water, elektrisiteit of behoorlike toiletgeriewe.

Die gemeenskap is afhanklik van vyf chemiese toilette (30 huishoudings per toilet) en een gemeenskaplike kraan vir al 150 eenhede.

Gogo Kholeka Qamse, 89, het nog nooit in haar lewe ‘n huis met elektrisiteit bewoon nie.

Qamse gebruik ‘n paraffienlamp vir lig en ‘n vlamstofie om op te kook.

Sy het aan Scrolla.Africa gesê sy kook graag terwyl die son nog op is, sodat sy paraffien kan spaar en vroeg kan gaan slaap.

“Toe hulle my met ‘n vragmotor hierheen gebring het, was ek bly, want ek het gedink ek sal uiteindelik in ‘n huis met elektrisiteit woon. In plaas daarvan was ek teleurgesteld toe ek by ‘n huthuis kom met geen kragtoevoer, geen water en geen toilet nie. Ons woon al jare hier, en hulle hou aan met leë beloftes maak,” het Qamse gesê.

Nontuthuzelo Mosi het gesê die enigste gemeenskaplike kraan wat hulle gehad het, is gevandaliseer.

“Ons lewensomstandighede is haglik. Jy kan sien dat elke ry huise net een toilet het.

“Ons het nie water nie, want die een kraan wat ons gehad het is nou deur vandale verniel. Ons moet na die buurgemeenskap toe gaan om water te vra.”

Nog ‘n inwoner, Nonzukiso Mata, het gesê hulle maak nou staat op onwettige elektrisiteitsverbindings.

“Ons het elektrisiteit in hierdie gebied nodig, omdat dit so donker word snags. ‘n Lyk is al eenkeer hier afgegooi. Ons is moeg vir leë beloftes en daarom het ons besluit om izinyoka te gebruik om elektrisiteit van die kragnetwerk af te tap. Hierdie plek het ‘n misdaadnes geword omdat dit snags so donker is,” het sy gesê.

Tukela Zumani, ‘n lid van die burgemeestersraad vir behuising in Nelson Mandelabaai, het gesê hulle sal ‘n punt daarvan maak om basiese dienste aan hierdie gemeenskap te verskaf.

“Ons is bewus van die situasie in Rholihlahla en werk daaraan om te verseker dat die kwessie vinnig aangespreek word.”