Lungani Zungu
Op die vooraand van Koning Misuzulu Sinqobile kaZwelithini se kroning, is die koninklike familie steeds verstrengel in ‘n nare openbare vete.
Koning Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu se broers, Prins Mbonisi, Prins Vulindlela Zulu, en Prins Mathuba, het Donderdag gesê dat hul vir Misuzulu as mede-prins erken, maar nie as koning nie.
Hierdie stand van sake sal dus steeds die geval wees wanneer Koning Misuzulu eerskomende Saterdag by die Moses Mabhida Stadion in Durban voor ‘n verwagte skare van sowat 48,000 mense gekroon word.
Mbonisi was een van die sogenaamde koninklike rebelle wie vir Prins Simakade ondersteun maar later sy gewig agter Prins Buzabazi gegooi het, as voorloper om die troon te bestyg.
“Ons erken nie vir ‘prins’ Misuzulu nie, want die proses het nie korrek verloop nie,” sê Mbonisi.
Die twee sit glo glad nie om dieselfde kampvuur nie.
Tydens Donderdag se media-inligtingsessie in Umhlanga, noord van Durban, was dit duidelik dat hul Prins Buzabazi ondersteun om as koning oor te neem.
“Die regering het ingemeng met die koning se aanwysing,” het Mbonisi gesê.
Hy het toe sy mond uitgespoel oor President Cyril Ramaphosa, wie volgens hom hul pleidooie dat die korrekte proses gevolg word, ignoreer het.
Prins Vulindlela het gesê Koning Misuzulu geniet nie sy ooms se ondersteuning nie. “Hulle kan voortgaan en vir hom sy sertifikaat gee, maar ons erken hom nie as koning nie,” het Vulindlela gesê.
Ten spyte van hul bedenkinge is planne vir Koning Misuzulu se kroning en oorhandiging van die sertifikaat van erkenning deur President Cyril Ramaphosa in volle swang.
Prins Mangosuthu Buthelezi, tradisionele eerste minister van die Zoeloe-monarg, het bewerings verwerp dat tradisionele prosesse nie gevolg is toe Koning Misuzulu as troonopvolger verkies is nie.
Buthelezi het Donderdag ‘n aparte media-inligtingsessie in Durban gehou.
“Dit was nog altyd bekend dat ‘n koning uit die huis van wyle koningin Mantfombi Zulu sou kom,” aldus Buthelezi.
Wyle koningin Mantfombi Zulu, uit die koninklike familie van eSwatini, is Koning Zwelithini se derde vrou.
Sy was hoofgade aangesien sy van koninklike afkoms is.
Buthelezi het Koning Misuzulu se kroning as ‘n “eens-per-leeftyd” gebeurtenis beskryf.
Soos bepaal deur tradisie sal Koning Misuzulu geensins in die openbaar verkeer tot Saterdag se kroningseremonie nie.
Die kroning is bloot ‘n formaliteit nadat hy reeds in Augustus die deurslaggewende kraalbetredingsritueel uitgevoer het.
Nomusa Dube-Ncube, premier van KZN, het gesê meer as 300 minibusse is voorsien om mense na die geskiedkundige gebeurtenis te vervoer.
Hierbo: Prins Mbonisi
Beeldbron: @DailySun