Karabo Rammutla
Hoewel die Johannesburg Gay Pride na beplanning sal voortgaan, is meeste mense wat die geleentheid wou bywoon nou redelik senuweeagtig.
‘n Groot gros van hulle het sosiale media gebruik om aan hul frustrasie uiting te gee.
Organiseerders sê die Pride-konsep het ontstaan as ‘n veldtog van uitdagende, en dat hulle nie sal swik voor dreigemente gemaak op grond van seksuele oriëntasie en geslagsidentiteit nie.
Dit ondanks beweerde dreigemente van ‘n ISIS-terreuraanval.
Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika het Woensdag ‘n waarskuwing aan Amerikaanse burgers uitgereik wat hul noop om die naweek groot byeenkomste in en om Sandton in Johannesburg te vermy.
Alhoewel die ambassade nie die Gay Pride-geleentheid in soveel woorde genoem het nie, is daar berig dat die optog moontlike ‘n aanvalsteiken mag wees.
Pride-organiseerders sê hul het die situasie getakseer, met owerhede vergader, en verneem dat ander byeenkomste op dieselfde dag in Sandton plaasvind.
“Johannesburg Pride is nie uitgesonder nie en op dié stadium is dit baie moeilik om uit te stel. Ons doen ‘n beroep op mense om te onthou waarom Pride oorspronklik onstaan het: vir alle doeleindes was dit ‘n protesaksie,” lui die verklaring.
Ibinathi Ngcobo het op Twitter geskryf: “Ons staan sterk terwyl aanvalle ons voortdurend in die gesig staar.”
“Maar ek weet nie of die kans van meer lewens verloor die antwoord is nie. Die realiteit is dat terreur ontketen en aanvalle gerig word op die mees gemarginaliseerde en onderdrukte groepe.”
Baie het sy stelling beaam en gevra dat die Pride-optog uitgestel word.
President Cyril Ramaphosa het egter die Amerikaanse ambassade gekritiseer oor die sekuriteitswaarskuwing, en gesê hulle span die wa voor die osse.
“Dis ‘n jammerte dat die Amerikaners hierdie soort waarskuwing uitgereik het sonder dat dit voorafgegaan is deur samesprekings met die Suid-Afrikaanse regering.”
“Wetstoepassingsagentskappe werk 24 uur per dag om die Amerikaanse ambassade se boodskap te verifieer en van naderby te ondersoek.
“Ons kon [die VSA] vastrek om presies te verstaan waar hierdie waarskuwing of inligting ontstaan het.
“Dit word gedoen omdat waarskuwings van dié aard paniek onder ons mense stook. Dis beter dat Suid-Afrikaners deur die Suid-Afrikaanse regering ingelig word,” het Ramaphosa Donderdag gesê.
Hierbo: Johannesburg Gay Pride
Beeldbron: DW