Wie wil nou bad? Die dollars reën my nat!

Reënbuie was nie deel van Saterdagaand se weervoorspelling vir New York nie, maar DJ Sbu het omtrént ‘n wolkbreuk veroorsaak.

‘n Onlangse optrede deur DJ Sbu by Superior Ingredients in Brooklyn het die gehoor so bekoor dat hulle Amerikaanse dollars op die radiopersoonlikheid laat reën het.

Oorgehaal om amapiano en Suid-Afrikaanse musiek met die wêreld te deel, het DJ Sbu New York-toe gereis vir verskeie vertonings.

Die vermaaklikheidsster, gedoop Sbusiso Leope, het video’s gedeel van die Big Apple-skare wat geld op die verhoog strooi.

“Dis heeltemal anders om ngaMaDollar op jou te voel neerreën. Ek het daai groenblare aangegryp met God se genade en met nederigheid. Dis ‘n goeie teken vir die toekoms, en ek beloof om dit in miljoene dollars te omskep,” het hy in ‘n Zalebs-artikel gesê.

“Mag al daai geld vermeerder vir die skenkers. Mag geld ook vermenigvuldig vir elke persoon wat hierdie storie lees.”

Sy onlangse sukses oorsee volg nadat foto’s van die 45-jarige opslae gemaak het. Sbu se baard en toutjieskop het gelei tot gerugte dat hy nie sommer in die bad spring nie…

“Mense beweer dat ek nie bad nie. Agnee, ouens, daar’s meer ernstige dinge wat ons in dié land moet bespreek. Vergeet maar eers van my hare en baard,” het hy destyds gesê.

Dit blyk of DJ Sbu ‘n lang pad geloop het vandat hy gelyk het soos iemand wat dringend ‘n nat waslap benodig, tot die man wat ‘n buitelandse gehoor na hul beursies laat gryp.

Die veteraan het verduidelik dat hy onlangs begin het om nader aan die natuur te leef.

“As jou vel swart is, is jy geseënd dat die melanien jou hiermee verbind,” het hy gesê, terwyl hy na ‘n boom toe beduie het.

“Dit verbind jou met die plante en met die planeet. Wanneer jy ‘n tydjie kry, loop kaalvoet op die groen gras of sommer op jou vloer. Wanneer jy kans kry, gee ‘n boom ‘n stywe drukkie. Jy kan ‘n boom vir so 2-3 minute lank omhels.”

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Hierbo: DJ Sbu

Foto: @TimesLive