Hoe nou gemaak, Me. Zille?

Zukile Majova

Die bal is nou in die hande van DA Federale Raad voorsitter Helen Zille, wanneer besluit moet word presies hoe ver Dr Mpho Phalatse dit kan druk in die beheerstruweling oor die Stad Johannesburg.

‘n Uitsonderlike hofsege is deur Phalatse gevier laas Dinsdag, toe die Noord-Gauteng Hooggeregshof bevind het dat die 29 September raadsvergadering waartydens sy uitgeskop is, onwettig en ongeldig was.

Regter Keightley het beslis dat die vergadering wat haar deur ‘n mosie van wantroue verwyder het onwettig, ongrondwetlik en ongeldig was.

“Die eerste aansoeker word as die Uitvoerende Burgemeester van die Stad Johannesburg verklaar.”

Met hierdie wenpyl in haar koker moet sy weereens die opposisie partye betrek wat haar gehelp het om beheer van die R77-biljoen metro uit die ANC se hande te ruk ná die November 2021 munisipale verkiesing.

Maar sonder die nodige gesag van haar politieke meerderes is dié ‘n pirriese oorwinning, waar die prys betaal dubbel die buit weeg.

Op hierdie oomblik lei ANC burgemeesterskandidaat Dada Morero, wie maar septer swaai vir nog minder as ‘n maand, steeds die sterker koalisie.

Die eerste struikelblok wat Phalatse nou moet oorkom is dat Zille haar moet toelaat om te veg vir die posisie van speaker van die raad, en om dit dan aan ‘n IFP-raadslid te oorhandig.

Dit was hoeka die DA se weiering om sleutelposisies in die raad te deel, wat die fondasies laat skud en amper die DA-beheerde koalisie inmekaar laat tuimel het.

‘n Goeie werksverhouding met die EFF blyk die oplossing te wees vir Phalatse om as politieke voorbok te kan pronk.

Maar dis waar Zille glo haar voet neersit.

“Ons kannie met ‘n party saamwerk wie juig as hul leier sy ondersteuners vra om mense te vermoor op grond van ras nie,” het sy aan Sunday Times gesê.

Maar die DA is reeds kop in een mus met die EFF in Ekurhuleni, Mogale City en Tshwane, waar Malema se kaders ‘n oog oor sake hou.

Aan Talk Radio 702 het Phalatse beken: “Dit is regtig, vir my, die grense waarbinne ek gedink het ons kon werk. Ek het vir niks nuuts gevra nie.”

In die betrokke rade skaar die EFF nie hul stemme by die ANC nie – ‘n reëling wat mag verander, en sal veroorsaak dat die DA al hierdie metro’s moet afstaan oor die komende maande.

Phalatse se poging om met die EFF te onderhandel kan moontlik DA-koalisies in al Gauteng se hangende rade red.

As sy nie die Federale Raad se guns kan wen nie, gaan die ANC/EFF koalisie in Jozi eenvoudig weer hul raad laat vergader, en haar nogeens omver gooi.  

Hierbo: Helen Zille