Thathe Msimango
Hy’s ‘n prille 22, maar Marc Pritzen moes al vele terugslae hanteer in sy poging om ‘n kampioen fietsryer te word.
‘n Val wat sy loopbaan eensklaps kon opskort het die tonge laat klap dat hy nooit weer ‘n gedugte mededinger sou wees nie.
Pritzen het al twee keer sy regter sleutelbeen gebreek, en ‘n plaat wat ter versterking moes dien is later weer verwyder.
Nog ‘n yslike botsing in 2020 het hom amper sy onderlip gekos, toe ‘n deel van die lip van sy kakebeen afgeruk is en met steke vaswerk moes word.
Maar ten spyte van hierdie terugslae, het die jongman aanhou trap om sy drome te bewaarheid.
Die Namibies-gebore atleet het homself dié jaar bewys as ‘n yster in fietsrykringe. Hy het in Maart die land se grootste fietswedren, die Cape Cycle Tour, gewen.
Die afgelope naweek het hy koning gekraai in die Amashova resies.
“Ek’s oorstelp dat ek in dieselfde jaar beide Amashova en die Cape Cycle Tour kon wen,” het Pritzen aan Scrolla.Africa vertel.
“Ek is groot dank verskuldig aan die span wat my in staat stel om so goed te vaar. Die ondervinding het my nogal ‘n les geleer. Ek moet my voete vind in die sport.”
Die TeamHoneyComb-lid het ook onlangs 32ste geëindig tussen ‘n hele spul top atlete in die UCI World Gravel-kampioenskap in Italië.
Pritzen het homself eens as hardloper geag, en tydens sy skoolloopbaan by Kempton Park Hoër op die 1,500m gekonsentreer. Maar toe hy sy knie beseer op ‘n veldwedlooop oefenkamp, het sy fisioterapeut voorgestel dat hy liefs fietsry of swem om sy kragte te herwin.
“Ek’s beswaarlik ‘n swemmer, en het dus die fiets gekies. Ek kon nooit raai dat ek soveel sou behaal in so ‘n kort tydjie nie,” sê hy.
“Ek droom daarvan om voortdurend met die beste fietsryers in Europa te kompeteer. As ek aanhou hard werk, en met my klub se ondersteuning, is dit moontlik om bo uit te kom.”
Hierbo: Marc Pritzen
Foto bron: @DailyMaverick