DIGTERLIKE VRYHEID: OPGESKORT

By Buziwe Nocuze

Toe drie jong mans teen 6vm op Nwabisa afgestap kom en haar gevra het waarom sy alleen loop, het sy geweet daar’s moeilikheid.

“Ek was geskok toe een van hulle vra, ‘so wat’s in jou sak?’ Ek het probeer kalm bly,” vertel die 40-jarige Nwabisa Mgozi van Lower Crossroads in Kaapstad.

“Ek het net ‘n boek by my,” het sy geantwoord, denkende aan haar bundel isiXhosa gedigte.

Hulle was ontevrede met haar antwoord. Sy was sekerlik aan’t leuens vertel en het iets waardevols probeer wegsteek.

Hulle het haar sak gegryp en nadat als uitgegooi is, was hulle platgeslaan dat sy die waarheid gepraat het.

Philasande Phinzi se digbundel Usekhona Na Umdlanga? (vertaal as ‘Word die Spies Steeds Gebruik?) het uit Nwabisa se sak uit geval.

“Hulle het gevra hoekom ek net ‘n boek en niks waardevols by my het nie,” sê sy.

“Ek het hulle vertel dat ek lief is vir poësie en altyd my boek byderhand hou.”

Sy het vermoed hul sou haar laat aanstap, maar die trio wou nog ‘n bietjie langer met haar lol.

“Hulle het gesê, aangesien ek niks ander het om vir hulle te gee nie, ek vir hulle gedigte moet voorlees,” sê sy.

“Hulle het my boek oorhandig en my beveel om te lees.”

Nwabisa het gevries. Sy konnie besluit of hulle haar probeer intimideer of verneder, en of hulle waarlik belangstel in poësie nie.

Met haar lewe in haar hande begin sy toe maar lees. En stop kon sy nie, want vrees het haar aangedryf.

“Ek het my isiXhosa gedigte uit volle bors gelees. Hulle het geskaterlag. Ek het elke oomblik daarvan gehaat,” sê sy.

Blykbaar het ‘n dame die spulletjie gesien en nader gehardloop, met die nuus dat sy amper besteel is. Ongelukkig was sy besig om reguit in nog ‘n lokval in te loop.

“Sy’t nie besef sy was steeds in gevaar nie,” verduidelik Nwabisa.

Die boewe het die ander vrou se handsak gegryp, waar hulle ‘n foon en geld gevind het. Hul loop toe saam met die dames na die busstop toe.

“Ek was siedend. Die parmante het gesê hul begelei ons sodat ons nie twee keer op dieselfde dag beroof word nie.”

“Nie ek of die ander dame het gehuil nie. Ons was albei te bang ons word aangerand,” sê sy. 

Philippi-Oos stasiehoof Kolonel Mzwabantu Jada het gemeenskappe aangemoedig om gevalle soos dié aan te meld. Bel die stasie by 021 370 1093 of 082 522 0782.

Hierbo: Philasande Phinzi se Usekhona na Umdlanga?

Bron: voorsien