Deur Buziwe Nocuze
Meer as 30 plakkershutte is Dinsdag vernietig in ‘n brand wat glo gestig is deur kinders wat met vuurwerke gespeel het by die Barcelona informele nedersetting in Kaapstad.
Niemand is beseer nie, maar die brand het 100 mense dakloos gelaat.
Die Kaapse hitte was versengend en Nono Ngodo, ‘n straatkomiteelid, het geslaap toe inwoners haar kom vra het om brandbestryders te ontbied.
Sy het die oproep gemaak terwyl sy haar na die toneel gehaas het.
“Daar is vir my gesê die brand is gestig deur kinders wat met vuurwerke gespeel het. Hulle het na bewering vuurwerke langs ‘n matras aangesteek, en die brand het so ontstaan.”
Nono het gesê hulle het kinders gevra om op te hou om met die vuurwerke te speel.
“Voordat ons met die kinders gepraat het, het ons winkeleienaars gevra om nie vuurwerke te verkoop nie. Ons het probeer voorkom wat hier gebeur het.
“Ons het met kinders gepraat oor die gevare daarvan om met vuurwerke te speel, maar dit is duidelik dat hulle nie na ons geluister het nie. En nou is mense dakloos,” het sy gesê.
Lizeka Ndabeni, 40, het by ‘n vriendin gekuier toe die brand ontstaan het.
“Ek het my foon op die laaier gelos. Ek was geskok toe ek terugkom en uitvind dat my shack vernietig is. Niks van my besittings is gered nie, insluitend my kinders se skoolklere,” het sy gesê.
Sy weet nie waarheen sy nou met haar gesin moet gaan nie.
“Ek bly by my drie kinders. Ons het gister in ander mense se huise geslaap, maar ons kan dit nie aanhou doen nie.”
Ander slagoffers het by familielede gaan slaap.
Wat herbou betref, het sy gesê: “Ons het hulp nodig, want ons het nie geld om nuwe boumateriaal te koop nie.”
Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad se brand- en reddingsdiens, het gesê hulle het om 2.10nm ‘n noodoproep ontvang wat gerapporteer het dat strukture in Barcelona brand.
“Ons bemanningslede het daarin geslaag om die brand teen 4.30nm te blus, en die oorsaak van die brand is onbekend. Geen beserings of sterftes is aangemeld nie,” het Carelse gesê.
Op die foto hierbo: ‘n Brand, wat glo deur vuurwerke veroorsaak is, het meer as 100 mense dakloos gelaat.
Bron: Buziwe Nocuze