Deur Buziwe Nocuze
‘n Tradisionele medisynewinkeleienaar is in hegtenis geneem omdat hy glo bas en ander beperkte items van onwettige verskaffers vir muthi-doeleindes gekoop het.
Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder Frederick van Wyk sê ondersoekers van Omgewingsmisdaad Kaapstad het ‘n winkel in die stad geïdentifiseer wat blykbaar betrokke was by die onwettige en voortdurende stroop van bas van beskermde boomspesies in Tafelberg Nasionale Park.
‘n Ondersoek waarby amptenare van Sanparke Omgewingsmisdaad, SAPD Veediefstal en Cape Nature betrokke was, tesame met die Bedreigde Spesies eenheid van Kuilsrivier, het die besigheid se praktyke dopgehou.
“Die span het op die tradisionele medisynewinkel toegesak ná ‘n vier maande lange veldtog. Dit het geëindig met die inhegtenisneming van die eienaar van die winkel en die konfiskering van verskeie onwettige fauna- en floraprodukte,” het Van Wyk gesê.
Die eienaar word aangekla van die besit sonder ‘n permit van wilde dierekarkasse en flora.
Die lede het beslag gelê op 29 sakke boombas, een olifantvoet, verskeie jakkalsvelle en een ottervel.
Die arrestasie het druk gesprek onder plaaslike inwoners veroorsaak, met sommige wat die amptenare daarvan beskuldig het dat hulle nie respek het wanneer dit kom by kwessies wat tradisionele genesers betrek nie.
Tradisionele geneser Thembisa Skaap het egter gesê amptenare het die volste reg om handelaars wat die wet oortree, in hegtenis te neem omdat tradisionele genesers weet dat hulle permitte moet hê om sekere gebiede te betree.
“Ek is teleurgesteld omdat hierdie voorval ons sal laat lyk soos mense wat nie weet wat nodig is om toegang te kry tot gebiede waar ons kruie of boombas wil oes nie,” het Skaap gesê.
“Ons weet dat ons nie meer as vyf stukke bas van ‘n boom mag stroop nie. Dieselfde geld vir kruie opgrawe. Ons kan nie aanhou tot ons sakke vol is nie, dit is nie die manier om dinge te doen nie,” het Skaap gesê.
Sy het gesê daar is seisoene wanneer hulle toegelaat word om daardie beskermde ruimtes te betree indien hulle ‘n permit het.
‘n Inwoner wat op voorwaarde van anonimiteit praat, voel dat die amptenare hardhandig was.
“Ek sien nie die probleem daarmee dat hulle hom arresteer as hy die wet oortree het nie, maar om sy medisyne te konfiskeer is eenvoudig ekstra – hulle moet hul hantering van sulke probleme verander.”
Op die foto hierbo: ‘n Tradisionele medisynewinkeleienaar in Kaapstad is gearresteer vir die aankoop van bas en ander items van onwettige verskaffers vir muthi-doeleindes
Bron: Verskaf