Kaapse misdaadbekamper koelbloedig vermoor

Lulama Dinginto vermoor

Deur Buziwe Nocuze

Die adjunkvoorsitter van die Gugulethu-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Kaapstad is Sondag tydens die vroeë oggendure in haar huis vermoor.

Lulama ‘Guffy’ Dinginto is vyf keer deur ‘n onbekende verdagte in die kop geskiet.

Familielid Nontsomi Mnqothole, ‘n 63-jarige vrou, het geslaap toe sy geweerskote gehoor het.

“Dit was net na 2.30vm toe ons geweerskote hoor. Lulama het in haar kamer agter geslaap, en ek het saam met haar ma in die hoofhuis geslaap,” het Mnqothole gesê.

Na ‘n paar minute het sy haar daarheen gehaas om te sien wat gebeur het.

“Terwyl ek na die agterkamer gehardloop het, het ek gebid dat sy lewe. Maar ek was so geskok om haar in ‘n plas bloed te sien lê met twee skietwonde in die kop en drie in die gesig. Die verdagte was vasberade om haar dood te maak,” het Mnqothole gesê.

Al weet die familie nie die rede vir haar moord nie, vermoed hulle dit hou verband met die feit dat die slagoffer saam met die polisie gewerk het.

“Miskien het hulle gedink sy was ‘n informant aangesien sy nou saam met SAPD-lede gewerk het, maar daar was geen rede om haar so te vermoor nie.”

Mnqothole sê die verdagte het die alarm gebreek en die deur afgeskop.

“Ons het haar in die badkamer gekry. Dit wys dat sy probeer het om weg te kruip; ons bid dat wie ookal dit gedoen het gearresteer word.”

Sy het gesê verlede week het iemand na die dooie vrou kom soek.

“Iemand het na haar kom vra, maar sy was nie hier nie. Ek weet nie hoekom daardie persoon haar gesoek het nie. As gesin is ons hartseer dat iemand wat haar lewe daaraan gewy het om die gemeenskap veilig te hou, nou wreed vermoor is,” het sy bygevoeg.

provinsiale voorsitter Francina Lucas het gesê woorde ontbreek die GPF-gemeenskap.

“Ons is baie hartseer oor hierdie sinnelose moord op ‘n gemeenskapsmisdaadvegter wat haar lewe opgeoffer het en haar dienste aangebied het om te verseker dat ons ‘n veiliger en vreedsame gemeenskap het,” het sy gesê.

Sy het gesê hulle het iemand verloor wat baie aktief was in die bekamping van misdaad.

“Sy moet in vrede rus, sy het alles gedoen om seker te maak dat ons gemeenskappe veilig is. Haar moord het ons geruk, en ons is bekommerd oor die veiligheid van ons lede,” het Lucas gesê.

Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder Kaptein Frederick van Wyk het gesê hulle ondersoek ‘n die moord op ‘n volwasse vrou wat in Gugulethu geskiet en noodlottig gewond is.

“Die motief is tans onbekend en die verdagte/s moet nog in hegtenis geneem word,” het Van Wyk gesê.

Op die foto hierbo: Lulama Dinginto van Gugulethu Gemeenskapspolisiëringsforum, is in haar huis doodgeskiet

Bron: Verskaf