Deur Buziwe Nocuze
Inwoners in Manenberg in Kaapstad het na bewering ‘n roofverdagte vermoor nadat hulle hom en sy twee makkers vanaf ‘n misdaadtoneel agtervolg het.
Lede van die Maitland Blitspatrollie het Maandag gereageer op die klagte van ‘n sakeroof in die gebied.
Maar voordat hulle by die toneel kon aankom, het gemeenskapslede reeds een van die roofverdagtes aangekeer en doodgeslaan.
‘n Inwoner wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê hulle het drie verdagtes sien weghardloop.
“Ons het gehoor hulle het pas ‘n besigheid in die omgewing beroof en die gemeenskapslede het hulle agternagesit. Een van hulle is gevang en ‘n les geleer. Ongelukkig is hy op die toneel dood,” het die inwoner gesê.
Dit was ‘n algehele ommekeer van ‘n voorval in Oktober, toe gemeenskapslede die polisie agternagesit het.
Wes-Kaapse SAPD woordvoerder Kaptein Frederick van Wyk het gesê: “Daar word beweer dat drie verdagtes ‘n besigheid beroof het. Terwyl hulle van die toneel probeer vlug het, het lede van die gemeenskap hulle te voet gejaag en aangekeer.”
Daar is gesien dat een van die verdagtes iets weggegooi het, wat later ontdek was as ‘n 9mm pistool waarvan die reeksnommer verwyder is. Daar is beslag gelê op die vuurwapen.
“Een van die verdagtes is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar, waarskynlik weens beserings wat hy opgedoen het nadat hy deur lede van die gemeenskap aangerand is. Sake van besigheidsroof, die besit van ‘n verbode vuurwapen en ammunisie, en die besit van gesteelde eiendom is vir ondersoek geregistreer,” het Van Wyk gesê.
Twee verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van sakeroof, die besit van gesteelde eiendom en die besit van verbode vuurwapens en ammunisie.
Wes-Kaapse SAPD het sake van beide moord en poging tot moord geregistreer ná die beweerde aanranding van die roofverdagtes deur Manenberg gemeenskapslede.
Op die foto hierbo: Die vuurwapen wat deur een van die verdagtes weggegooi is – die polisie het later daarop beslag gelê
Bron: Verskaf