Ondersoeker van Gold One mynstaking voor gesin vermoor

Killed in front of family

Deur Doreen Mokgolo

Mynsekuriteitsondersoeker Elliot Daniso is Dinsdagaand doodgeskiet buite sy huis in Eastvale, Ekurhuleni.

Die 55-jarige het vir die maatskappy gewerk wat gekontrakteer is om sekuriteit vir Gold One Myn te verskaf.

Meer as 500 mynwerkers is van 22 tot 25 Oktober ondergronds aangehou as deel van ‘n staking

– wat steeds aan die gang is – deur die mynvakbond Amcu, om die NUM se status

as die enigste vakbond wat deur die maatskappy erken word, te betwis.

Dissiplinêre verhore duur voort.

Daniso het sake ondersoek wat met die staking by die myn verband hou. Spesifieke besonderhede rondom die sake is nie bekend gemaak nie.

Hy het pas saam met sy vrou en twee kinders uit sy oprit gery toe sy motor geteiken is.

‘n Bron wat die skietery gesien het, het gesê hy kon nog sy motor verby ses huise in die pad af bestuur, tot by die huis van die plaaslike gemeenskapspolisieforum se beampte. Hy het van die motor af gehardloop, oor die veiligheidsheining gespring en hulp ontbied.

Maar hy het net buite die beampte se kombuisdeur aan sy beserings beswyk.

Daniso se vrou en kinders is nie beseer nie. Sy motor is gemerk met ses koeëlgate aan die bestuurder se kant.

Die twee verdagtes was in ‘n swart BMW sonder ‘n registrasienommer.

In gesprek met Scrolla.Africa het ‘n kollega van Daniso – wat gevra het om anoniem te bly vir veiligheidsredes – gesê hy en sy vriende het buite gesit toe hulle geweerskote net anderkant hul hek gehoor het.

“Toe ons oor die hek probeer kyk het die skieter in ons rigting begin lostrek en een van die huurders beseer, wat twee skietwonde aan sy onderlyf opgedoen het, voordat hulle weggejaag het.”

Scrolla.Africa verneem die omstander wat in die aanval beseer is, sterk aan in die hospitaal.

“Ons het gehoor hoe bure om hulp skree, dat Elliot beseer is, en dat iemand ‘n ambulans moet ontbied,” het die kollega gesê.

Hy het gesê hy vermoed die moord hou verband met die voortslepende staking by die myn.

“Hierdie mense was oorgehaal om hom dood te maak. Daar was geen manier dat hy die poging sou oorleef het nie,” het hy gesê.

Kolonel Dimakatso Nevhuhulwi, Gautengse polisiewoordvoerder, het bevestig dat hulle ‘n saak van moord en poging tot moord ondersoek.

“Die motief van die skietery is op hierdie stadium onbekend. Die verdagtes het na bewering ‘n swart BMW-voertuig bestuur.”

Scrolla.Africa het vir Gold One genader vir kommentaar, maar is meegedeel dat geen verklaring nog oor die aanval vrygestel is nie.

Op die foto hierbo: Elliot Daniso

Bron: Verskaf