Deur Doreen Mokgolo
Linda Sebezo werk saam met verskeie jong kunstenaars om ‘n ikoniese toneelstuk deur Gibson Kente te herskep.
Sy het Kente se How Long – ‘n opspraakwekkende vyfdelige musiekblyspel – vernuwe en dit How Long Mfwethu herdoop. Dit sal van Donderdag tot Saterdag by die Dumisani Masilela Teater in Germiston op die planke wees.
In ware Kente-styl sal die toneelstuk se temas populêre kultuur, mode en sosiale uitdagings insluit.
In gesprek met Scrolla.Africa het die legendariese aktrise en choreograaf gesê die inisiatief sal township-teater laat herleef en nuwe talent ontgin.
“Kente het ons die belangrikheid van rou talent geleer. Hy sou na verskillende townships gaan om hulle uit te snuffel, en dan van hulle internasionale sterre te maak,” het sy gesê – en sy doen dieselfde.
Linda het belangstellendes in Ekurhuleni ontbied en oudisies gehou.
“Hierdie platform is vir jongmense wat nie verder aan die kunstekolleges of universiteite studeer het nie, maar gebore kunstenaars is. Ons gee hulle ‘n regverdige kans en platform om hul talent ten toon te stel, terwyl ons hulle die belangrike vaardighede leer wat hulle benodig om in die bedryf te oorleef,” het sy gesê.
Die aktrise is bekommerd oor die kwaliteit van die kunste en die gebrek aan professionaliteit van jong kunstenaars in die land.
“Van die jong akteurs wil net bekend en beroemd wees; hulle wil nie hard werk met die vereiste toewyding en vasberadenheid om hul vaardighede te verbeter nie.
“Kunstenaars wat deur Kente opgelei is, bly vandag steeds relevant en vervolmaak elke rol waarvoor hulle benoem word omdat hulle hul kuns as ‘n beroep beskou. Hulle het hard gewerk om hul vaardighede te leer en te verbeter,” het sy gesê.
Daar word gepoog om deur hierdie produksie ‘n saadjie te plant wat jong kunstenaars se houding mag regruk.
Op die foto hierbo: Linda Sebezo
Bron: Verskaf