Die Suid-Afrikaanse grapkas Trevor Noah is die eerste komediant wat die gesogte Erasmus-prys losgeslaan het sedert Charlie Chaplin dit 58 jaar gelede gewen het.
Tydens die prysuitdeling wat by Amsterdam se Koninklijk Teater Carré gehou is, het Noah sake afgeskop met ‘n grappie oor die feit dat hy die jongste wenner is, en belowe om sy toespraak van sy betroubare slimfoon af te lees.
Hy het gesê hy is uitermatig geëerd om die prys te ontvang.
Die Erasmus-prys is in 1958 gestig is en word toegeken aan individue of organisasies wat wêreldwyd groot bydraes tot kultuur, samelewing of sosiale wetenskap maak.
Die prys kry sy naam van Desiderius Erasmus – ‘n Nederlandse humanistiese geleerde wat in 1536 dood is, berig The Citizen.
Noah, bekend vir sy insiggewende en humoristiese benadering van sosiale en politieke kwessies, het sy siening oor komedie gedeel.
“Vir my is komedie konneksie. En ek dink die krag van daardie verbinding lê in die vermoë om uiteenlopende perspektiewe te oorbrug. Dit help ons om begrip en innovasie te bevorder,” het hy gesê.
Hy het sy aanvaardingstoespraak met ‘n tikkie humor afgesluit.
“Ek is baie trots daarop dat ‘n Suid-Afrikaner ná 220 jaar ‘n paar hulpbronne uit Nederland terug Kaap toe kan neem. Dankie,” het hy gesê.
Die Erasmus-prys word vergesel met ‘n kontanttoekenning van €150,000 (meer as R3 miljoen) en unieke versierings wat in 1995 deur Bruno Ninaber van Eyben ontwerp is.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Trevor Noah met die Erasmus-prys.
Bron: X