Deur Lucky Vince Pienaar
Natuurlik is dit goeie nuus dat die Blitsbokke deurgedring het tot die eindronde van die Dubai-sewesreeks. Maar die manier waarop hulle dit gedoen het moet ‘n glimlag dwing op die gesigte van selfs die SA-sewespan se mees geswore kritici.
Is dit ‘n nuwe Blitsbokspan? Dis te vroeg om te sê, maar dié ouens hoort terug in die wennerskring.
Die eerste wedstryd van die eindronde was teen Australië en Suid-Afrika het sommer met die opdraf tot aksie oorgegaan. Nie net het hulle twee drieë binne die eerste drie minute gedruk nie, maar hulle het dit met verbeeldingrykheid en toewyding gedoen.
Australië het net een drie kon druk teryl die Blitsbokke vier juwele aangeteken het.
Blitsbokke (4 drieë) 24-7 (1 drie) Australië
Drieë Blitsbokke: Quewin Nortje, Zain Davids, Rosko Specman, Ronald Brown
Drieë Australië: Nathan Lawson
Fidji was nie op hul beste nie, maar die Blitsbokke was puik.
Die eerste telling is kort voor rustyd deur die Blitsbokke behaal – onvermydelik, aangesien Fidji die grootste deel van daardie helfte desperaat probeer het om hul eie doellyn te verdedig.
Fidji het die telling gelyk gemaak toe die Blitsbokke vir ‘n oomblik gelyk het of hulle fokus verloor, maar toe het Suid-Afrika dadelik met ‘n sewepunter geantwoord. Die Blitsbokke het ‘n riller met twee drieë teen een gewen.
En daar wink die goue medalje…
Blitsbokke (2 drieë) 14-7 (1 drie) Fidji
Drieë Blitsbokke: Justin Geduld, Masande Mtshali
Drieë Fidji: Pilipo Bukayaro
Die son het reeds in Dubai gesak, maar die hitte het skaars afgeneem toe die Blitsbokke en Argentinië op die veld verskyn vir die laaste 14-minute kragmeting.
Vir drie minute lyk dit of die wedstryd nie aan die gang gaan kom nie, maar dan veroorsaak ‘n monsterduikslag deur Justin Geduld ‘n los bal wat deur die Blitsbokke opgeswaai word.
Kreatiewe hanteerwerk en spoed lei tot eerste punte op die telbord. ‘n Minuut later vind Shilton van Wyk ‘n gaping so wyd soos ‘n stoordeur. Teen rustyd het die Blitsbokke ‘n voorsprong van 12 punte.
Met Oosthuizen op die stoutstoel teken Argentinië punte aan. Die wedstryd is nog lank nie verby nie!
Rosco Specman mis ‘n drie met sentimeters en vir ‘n oomblik lyk dit of die Blitsbokke die wenstrategie laat vaar wat hulle regdeur die toernooi so goed uitgevoer het.
Maar dan is alles oor. Die Blitsbokke is vir die 11de keer kampioene in Doebai. Dit is die vyfde agtereenvolgende keer – ‘n toernooirekord om te koester.
Blitsbokke (2 drieë) 12-7 (1 drie) Argentinië
Drieë Blitsbokke: Impi Visser, Shilton van Wyk
Drieë Argentinië: Matías Osadczuk
Op die foto hierbo: Speler van die Wedstryd, Selvyn Davids
Bron: SA Rugby