Deur Zukile Majova
Prestasie ooreenkomste tussen die president en sy ministers is ‘n foefie wat die eerste keer deur oudpresident Jacob Zuma aan SA bekend gestel is.
Niemand het verwag dat Zuma by sy woord sou hou nie.
En niemand was verbaas toe hy sy kamerade in sy kabinet gehou het selfs toe hulle van swak prestasie en korrupsie beskuldig is nie.
Zuma was vir minstens twee dekades die openbare gesig van die ANC en staat se korrupsie. Die staatskapingsverslag is ‘n skokkende kroniek van presies hoe die staat besteel en geplunder is gedurende die nege vermorste jare van Zuma se bewind.
Daar was dus geen verwagting dat ‘n man met sulke lae sedes korrupsie en onderprestasie in die regering sou beveg nie.
Maar toe Cyril Ramaphosa – die man wat persoonlik deur Nelson Mandela as toekomstige president van die land aangewys is – gesê het hy teken prestasie-ooreenkomste met sy ministers, was daar ‘n kans dat hy sy woord sou hou.
Ramaphosa was in die vroeë 1990s hoof van die ANC-afvaardiging wat Suid-Afrika se vreedsame oorgang van apartheid na ‘n demokrasie onderhandel het.
Hy was die sameroeper van die Grondwetlike Vergadering wat die land se grondwet saamgestel het, wat wêreldwyd as een van die beste hoekstene van ‘n demokrasie beskou word.
Toe Ramaphosa dus die nasie ‘n nuwe era belowe het, het ons hoop opnuut opgevlam.
In sy 2020 staatsrede het hy gesê: “Om die staat se kapasiteit te versterk en aanspreeklikheid te verhoog, sal ek prestasie ooreenkomste met alle ministers onderteken voor die einde van hierdie maand.”
Hy het verder gesê: “Hierdie ooreenkomste, wat gebaseer is op die teikens vervat in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk, sal openbaar gemaak word sodat die mense van Suid-Afrika diegene wat hulle in hul amp verkies het tot verantwoording kan roep.”
Maar vandeesweek het die Ramaphosa regering van deuntjie verander en gesê die prestasiebeoordelings van ministers sal nie bekend gemaak word nie.
Op die vooraand van ‘n verkiesing is daar vrees dat die swak prestasie van ministers deur opposisiepartye gebruik sal word om politieke punte aan te teken.
Die DA, wat presies dit beplan, het gesê hy sal “die howe nader om die prestasiebeoordelings van Suid-Afrika se nasionale kabinetsministers te verkry as President Cyril Ramaphosa dit van die publiek weerhou”.
Ramaphosa se woordvoerder Vincent Magwenya het gesê die DA probeer “om ‘n politieke stelling te maak”.
“Daar is nie ‘n kwessie van aanspreeklikheid omdat die uitvoerende gesag afwesig is van die publieke domein nie – nee, glad nie.
“Hierdie prestasiebeoordelings is gesprekke tussen ‘n werkgewer en sy werknemers in terme van die assessering van vordering met die prioriteite wat uiteengesit is.”
Maar duidelik soos daglig is dat die amp se mag ‘n man kan verander. En Ramaphosa is nie dieselfde persoon wat ons al die jare gedink het ons ken nie.