Oorgehaal om dwelms te beveg in die Baai

Gquebera's drug support committee

Deur Anita Dangazele

Die Nelson Mandelabaai-metro het vir die eerste keer ooit ‘n plaaslike aksiekomitee geloods om die plaag van dwelmmisbruik – wat tot die misdaadepidemie in die stad gelei het – te beveg.

NMBM burgemeester Gary van Niekerk het Dinsdag ‘n komitee gestig wat uitsluitlik toegewy is aan die bekamping van die dwelmmisbruik. Die komitee is ingestel om hulptoonbanke vir dwelmgebruikers in elke wyk in die stad te vestig.

Die hulptoonbanke sal ondersteuning verleen deur beradingsdienste aan gebruikers te verskaf, hulle na dwelmrehabilitasiesentrums te stuur, en algemene ondersteuning en leiding te gee oor heraanpassing in die samelewing na rehabilitasie.

As mens kyk na die steeds groeiende kriminele elemente sowel as vandalisme in die stad, het Van Niekerk gesê dit maak net sin om deel te wees van ‘n inisiatief wat nie net die jeug van dwelmmisbruik sal red nie, maar sal help om die misdaad te bekamp wat die stad verswelg.

“Ons is moeg daarvoor om slegs die simptome aan te spreek. Ons sien die vandalisme van ons munisipale infrastruktuur, maar wat ons nie regtig aanspreek nie is die rede waarom hierdie kinders hulle daarheen wend. Die doel is dus om ‘n allesomvattende oplossing rondom die dwelmprobleem te verskaf,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit gevoel het betrokkenheid is broodnodig, aangesien hulle die knyp voel van infrastruktuurskade wat deur dwelmgebruikers in gemeenskappe rondom die metro aangerig word.

Stanley Sampson, een van die stigterslede van die komitee, het gesê hy was ‘n dwelmverslaafde vandat hy ‘n tiener was.

“Ek het op die ouderdom van 19 begin dwelms gebruik tot ek 46 was. Eendag het dit tot my deurgedring dat ek nie net my geld nie, maar ook my lewe weggegooi het deur dwelms te gebruik,” het hy gesê.

“Al my geld is op dwelms spandeer en ek was net ‘n marionet tussen die handelaar en die verskaffer. Ek het ‘n besluit geneem om my lewe te verander. Glo my dit was nie maklik nie.”

Hy het gesê nadat hy ophou gebruik en nugter geword het, het hy sy eie dwelmrehabilitasieprogram tot stand gebring, maar dit het misluk weens finansieringskwessies.

Sampson het gesê dit het sy hart met vreugde gevul dat hy sal kan voortgaan om ander te help om hul lewens weer op koers te kry.

Op die foto hierbo: Die nuutgevonde plaaslike dwelmaksiekomitee in Nelson Mandelabaai

Bron: Anita Dangazele