Musk: ‘Geen keuse’ as om Israel te ondersteun nie

Elon & Ben

Deur Premium Times

Die tegnologiereus Elon Musk het Israel besoek en sy steun vir die oorlog teen Hamas te verklaar, ongeveer ‘n week nadat hy van antisemitisme beskuldig is.

Tydens sy besoek aan die Midde-Oosterse land het Musk gesê dat Israel “geen keuse” het in sy voorneme om Hamas te vernietig nie, berig die koerant Punch.

Musk het Maandag in Israel aangekom en met Israeliese Premier Benjamin Netanyahu in Kfar Aza vergader.

“Die teenargument is dikwels, jy weet, Israel het ook burgerlikes in Gaza doodgemaak,” het Musk gesê. “Maar daar is ‘n belangrike verskil hier: dat Israel probeer vermy om burgerlikes dood te maak, en alles doen wat hulle kan om te verhoed dat burgerlikes doodgaan. En jy weet, daar word geen vorm van vreugde uitgespreek nie.”

Hy het bygevoeg dat “daar geen ander keuse is nie” as vir Israel om Hamas te vernietig, maar dat Israel dan  “diegene wat oorbly moet help” tydens ‘n toekomstige naoorlogse toestand wat hy vergelyk het met die Amerikaanse besetting van Duitsland en Japan na die Tweede Wêreldoorlog.

“As jy veiligheid, vrede en ‘n beter lewe vir Gaza se mense wil hê, moet jy Hamas vernietig. Jy moet eers ontslae raak van die giftige regime, soos in Duitsland en Japan gedoen is,” het Netanyahu gesê, waarop Musk gereageer het: “Daar is geen keuse nie.

“Jy moet ferm wees en die terroriste en diegene wat wil moor, verwyder, en terselfdertyd diegene help wat oorbly, soos dit in Duitsland en Japan gebeur het.”

Sy besoek vind plaas net meer as ‘n week nadat hy daarvan beskuldig is dat hy antisemitisme met sy sosialemediaplatform X (voorheen Twitter) bevorder het, wat daartoe gelei het dat groot maatskappye advertensies van die webwerf verwyder het.

Sedert hy die maatskappy verlede jaar oorgeneem het, was Musk onder skoot vir wat kritici beskryf as ‘n verspreiding van algemene haatspraak op die platform.

Op die foto hierbo: Elon Musk het Israeliese premier Benjamin Netanyahou besoek om solidariteit met Israel te verklaar

Bron: X