Deur Anita Dangazele
Die Oos-Kaapse polisie het vyf valse tradisionele snydokters gearresteer sedert die begin van die somer-inisiasieseisoen vroeg in November.
Aan die begin van die seisoen het die departement gesê die tradisie van uLwaluko is besmet deur ontstellende vlakke van dwelm- en alkoholmisbruik, insluitend kriminele aktiwiteite, wat nie geduld kan word nie.
Die arrestasie volg op ‘n vennootskap tussen die polisie en die Oos-Kaapse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) om misdaad en dwelmmisbruik by onwettige inisiasieskole hok te slaan.
Polisiewoordvoerder Adjudant-offisier Majola Nkohli het gesê die arrestasies is gemaak deur ‘n taakspan bestaande uit lede van die polisie, verteenwoordigers van die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid, CoGTA en verskeie NROs.
“Al vyf mans tussen die ouderdomme van 23 en 35 is steeds in aanhouding, met altesaam agt kriminele sake wat tot dusver ondersoek word,” het hy gesê.
Nkohli het gesê spanne is in al agt distrikte in die provinsie ontplooi om te verseker dat alle inisiasieskole aan wetlike vereistes voldoen.
Volgens die Wet op Tradisionele Besnydenis van 2001 moet alle besnydenisskole, tradisionele snydokters en tradisionele verpleegkundiges by die provinsie se gesondheidsdepartement geregistreer wees.
Provinsiale polisiekommissaris Luitenant-generaal Nomthetheleli Mene het ouers versoek om ‘n aktiewe rol te speel wanneer hul kinders na inisiasieskole gestuur word.
“Ons waarsku ouers dat hierdie wette hulle ook verplig om betrokke te wees tydens die proses van ontgroening. ‘n Versuim om dit na te kom kan tot vervolging lei,” het Mene gesê.
Op die foto: ‘n Polisiebeampte tydens ‘n klopjag op ‘n onwettige inisiasieskool
Bron: SAPD