Nyanga val van Google Maps se kaart af

Nyanga tpwnship

Deur Buziwe Nocuze

Ná ’n voorval waar ‘n Amerikaanse toeris op 3 November in Nyanga in die gesig geskiet is, het Google die township van hul Maps-toepassing afgehaal, maar die Nyanga Gemeenskapspolisiëringsforum in Kaapstad is nie seker dat die maatreël misdaad sal hokslaan nie.

Die toeris het sy navigasiestelsel gebruik om Simonstad te bereik, maar die roete het hom na Nyanga gelei, waar hy die slagoffer van ‘n gewelddadige gewapende roof geword het.

Dumsani Qwebe, die sekretaris van die Nyanga Gemeenskapspolisiëringsforum, was verlig dat die toeris oorleef het, maar het gesê om Nyanga van Google Maps te verwyder is nie die oplossing nie.

“Ek is bly dat hy die skietery oorleef het al sal hy die littekens vir die res van sy lewe hê, maar die verwydering van die township van Google Maps sal niks verander nie,” het Qwebe gesê.

Hy het gesê aanhoudende beroepe op die Stad Kaapstad vir waarskuwingstekens by Nyanga se toegangspunte, om motoriste te waarsku oor die hoë risiko van kaping en voorvalle waar vensters gebreek en besittings uit motors gesteel word, is geïgnoreer.

“Ek glo as die Stad Kaapstad daardie kennisgewings aangebring het, sou ons nie hierdie situasie bereik het nie. Ons het ook gevra vir ‘n mobiele wetstoepassing sleepwa by Nyanga ingange, maar het dit nooit gekry nie. Dit sal die misdaad in ons buurt verminder,” het Qwebe gesê.

“Die Stad was veronderstel om ons te kom vra wat gedoen moet word om misdaad hok te slaan. Daar is baie gebiede net soos Nyanga. Gaan hulle dieselfde daar ook doen? Hulle moes die mense wat in die township woon geraadpleeg het om uit te vind wat hulle dink, in plaas daarvan om ons van Google Maps af te verwyder.”

Die voorval was die tweede van sy soort in Nyanga.

Tydens die Santaco taxistaking is Britse chirurg Dr Kar Hoa Teon doodgeskiet nadat hy ‘n verkeerde afdraai geneem het wat hom na Nyanga gelei het.

Die Stad se burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, raadslid Rob Quintas, het verduidelik dat die reëling met Google Maps daarop gemik was om roetes aan te pas om bekende kriminele brandpunte te vermy, nie om Nyanga van die navigasie toepassing af te verwyder nie.

“Met ander woorde, Nyanga is steeds op Google Maps. As ‘n reisiger spesifiek na Nyanga as eindbestemming wil gaan, sal dit steeds moontlik wees. Die doel was eerder om reisigers van buite die area wat na ander bestemmings as Nyanga mik om brandpunte te vermy, langs veiliger roetes na hul eindbestemming te beduie,” het Quintas gesê.

Alderman JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, het gesê dat Nyanga ‘n toegewyde LEAP-span het, en dat die Stad die tegnologie besit om geweerskootopsporings in die gebied te ontplooi.

“Dit is bo en behalwe die normale ontplooiingspatrollies in die gebied, uitgevoer deur al die Stad se handhawingsdienste, ter ondersteuning van die SAPD,” het Smith gesê.

Op die foto hierbo: Nyanga township

Bron: Flickr