Deur Anita Dangazele
Lekker weer en lang strande is Nelson Mandelabaai se toerisme trekpleister, maar die Somerstrand gebied is nou meer gevaarlik as ooit tevore.
Elke tweede week word daar berig oor voorvalle van geweldsmisdade waarby toeriste en inwoners betrokke is. Toeriste wat die stad te voet verken of selfs op die promenade stap, is deesdae sagte teikens vir misdadigers.
‘n Aandstappie op die strand kan maklik in ‘n skokervaring ontaard, aangesien misdaad dikwels smiddae en saans plaasvind, veral tydens naweke.
Die Port Elizabeth B&B Vereniging (Pembba) het gesê die onlangse styging in misdaad kan onherstelbare skade aan die stad se toerismebedryf aanrig.
“Aan die een kant het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor ons gaste om hulle in te lig oor die gevare van misdaad, maar ons wil hulle ook nie afskrik nie,” het Pembba voorsitter Shena Wilmot gesê.
“En dit is nie net akkommodasieverskaffers langs die strand nie, maar regdeur die stad, want hul besoekers stap gereeld af strand toe.”
In September het ‘n romantiese aand om hul eerste huweliksherdenking te vier,‘n nagmerrie geword vir ‘n jong paartjie.
Hulle was besig om te volg in die voetspore van hul heel eerste afspraak op die Rock Shark kaai in Somerstrand en was op die punt om die aand met ‘n soen te vier, toe hulle besef hulle is omring deur gewapende misdadigers.
Die egpaar het gesê hul romantiese aand het in trauma geëindig.
“Nadat ons aandete in een van die restaurante naby die kaai geëet het, het ek gedink dit sou lekker wees om ons eerste afspraak te herhaal en die aand af te sluit waar alles ‘n jaar gelede begin het,” het die jong vrou gesê.
“Die volgende oomblik was ons omring deur gewapende mans. Ek het geskree en drie van die ouens het gewere op my gerig en vir my gesê om stil te bly terwyl die ander my maat vasgehou het en sy sakke deursoek het.”
Die misdadigers het weggehardloop met ‘n beursie, selfone, motorsleutels en ander items. Die egpaar het gesê daar was geen sekuriteit in sig tydens die voorval nie.
Polisiewoordvoerder Kolonel Priscilla Naidu het gesê sporadiese voorvalle van misdaad op die promenade word aangemeld, en sekere gebiede bly brandpunte.
“Slagoffers van bedrog en diefstal is meestal toeriste wat by kitsbanke bedrieg word wanneer hulle onttrekkings maak,” het Naidu gesê.
“Nog ‘n neiging is dat daar vir toeriste gesê word dat hulle ‘n permit benodig om te parkeer, veral wanneer hulle Donkin Reservaat besoek. Hulle word na ‘n OTM geneem en bedrieg, waar hul kaarte omgeruil of groot bedrae kontant onttrek word.”
Met misdaad op die promenade wat toeneem en toeriste wat begin instroom, is die stad se gasvryheidsbedryf tereg bekommerd.
Op die foto hierbo: Die Somerstrand promenade
Bron: Anita Dangazele