Messi praat uit oor polisiebrutaliteit by Brasilië-wedstryd

Messi and team

Deur Razeen Gutta

Lionel Messi het hom uitgespreek oor die gedrag van die polisie by die Maracana Stadion, waar Brasilië se wedstryd teen Argentinië met ‘n halfuur vertraag is weens ‘n bakleiery in die skare.

Die Argentynse kaptein en sy spelers het oorgegaan na die kant toe waar gevegte uitgebreek het in ‘n poging om die situasie te kalmeer.

Volgens Messi het vriende en familie van die spelers hulle in dieselfde staanplek bevind.

“Dit was erg, want ons het gesien hoe hulle mense slaan. Ons het na die kleedkamer gegaan, want dit was die beste manier om alles te kalmeer. Dit kon in tragedie geëindig het,” het hy aan die BBC gesê.

‘n Soortgelyke voorval het twee weke gelede plaasgevind in dieselfde stadion in Rio, voor die Copa Libertadores eindstryd tussen die Brasiliaanse span Fluminense en die Argentynse klub Boca Juniors.

“Die polisie, soos in die Libertadores eindstryd gebeur het, was weer besig om die mense met hul diensstokke te bedwing,” het Messi bygevoeg.

“Jy dink aan die families, die mense wat daar is, wat nie weet wat aangaan nie en ons was meer bekommerd daaroor as om ‘n wedstryd te speel. Op daardie stadium was dit van sekondêre belang.”

Wêreldkampioene Argentinië het die wedstryd gewen na dit uiteindelik afgeskop het, met Nicolas Otamendi wat die wendoel ingekry het om Brasilië met drie agtereenvolgende kwalifiserende nederlae te straf.

Op die foto hierbo: Alexis MacAllister en Lionel Messi.

Bron: @lfc