Deur Anita Dangazele
St Albans gevangenisowerhede het beveel dat vroulike besoekers aan indringende vaginale deursoekings onderwerp moet word weens ‘n onlangse toename in smokkelhandel, wat na bewering in vroulike besoekers se privaatdele ingesmokkel is.
Nicole Blignault van Gqeberha het haar op sosiale media uitgespreek en gesê sy oorweeg dit selfs om nie haar pa, veroordeelde perlemoenstroper Morné Blignault, te besoek nie.
Sy het glo oor die jare gewoond geraak daaraan om deur tronkbewaarders deursoek te word wanneer sy die korrektiewe fasiliteit binnegaan, maar hierdie nuwe maatreël was veel erger as ‘n vernederende verleentheid.
Blignault het gesê sy besoek al vir twee weke lank nie haar pa nie, omdat sy bang is om verneder te word.
“Ek kan nie my pa sien nie, want ek wil nie my broek en onderklere uittrek en hurk sodat hulle my privaatdele kan bekyk nie!” het sy gesê.
“Dit breek jou af. Dis seksuele aanranding. Ek gee nie om oor protokol of prosedure nie. Dit is onaanvaarbaar.”
Blignault het gesê sy sal die stryd na die Menseregtekommissie neem as sy moet.
Tronkbesoekers is onderhewig aan ‘n liggaamsondersoek by aankoms; hulle word weer deursoek wanneer hulle die wagarea binnegaan en weer wanneer hulle die wagarea verlaat.
Korrektiewe Dienste woordvoerder Nobuntu Gantana het bevestig dat die fasiliteit strenger soekprosedures ingestel het na ‘n styging in onwettige uitruilings tussen besoekers en gevangenes.
“Hierdie bestuursarea het 23 veiligheidsvoorvalle gehad waar besoekers, meestal vrouens, gevind is in besit van smokkelware wat in kondome gestop is en in hul privaatdele geplaas is om soos sanitêre produkte te lyk,” het Gantana gesê.
Sy het gesê dit is standaardprotokol vir enigiemand wat ‘n korrektiewe sentrum binnegaan of verlaat – amptenare ingesluit – om deur handmetaalverklikkers deursoek te word, asook om ‘n inspeksie oor sy of haar geklede liggaam te ondergaan.
“Die deursoeking mag nie uitgevoer word op ‘n wyse wat inbreuk maak op privaatheid, en die waardigheid van die persoon wat deursoek word, ondermyn nie.
“Korrektiewe beamptes van dieselfde geslag as die persoon wat deursoek word, moet dit uitvoer, en die deursoeking moet privaat uitgedoen word,” het sy gesê.
Gantana het gesê die departement se protokolle laat wel toe dat bykomende maatreëls ingestel word om te verhoed dat onwettige middels by tronke ingesmokkel word ingevolge die departement se goedgekeurde sekuriteitstandaarde en bedryfsprosedure.
Op die foto hierbo: St Albans-korrektiewe fasiliteit in Gqeberha
Bron: Facebook