Deur Esther de Villiers
Die strande, hoofpaaie en dorpstrate van Mosselbaai het krioel van atlete wat by die gewilde Suid-Kaapse vakansiebestemming saamgetrek het vir ‘n jaarlikse wedloop wat kwalik beskryf kan word as ‘n “luilekker Sondaguitstappie”.
Die formaat vereis dat deelnemers vir 1.9km in die baai swem voordat hulle ‘n 90km fietsrit met aansienlike opdraandes in berge naby Herbertsdale aanpak. Na voltooiing van hierdie been, is die derde en laaste uitdaging ‘n 21.1km (halfmarathon) voetwedloop.
Elke provinsie het verteenwoordiging geniet, met die Wes-Kaap wat die grootste getal deelnemers (972) opgelewer het en Gauteng in die tweede plek (695). ‘n Handjievol internasionale aanspraakmakers was afkomstig van die VK (11), België (sewe), Duitsland (sewe) en Frankryk (ses).
En dan was daar die sonderlinge Spanjaard wat ‘n stokkie gesteek het voor almal anders se wenplanne: Javier Gomez het in ‘n tyd van 03:51:46 oorwinning behaal in die mans pro-kategorie, met Suid-Afrikaners Matt Trautman (3:54:22) en Nicholas Quenet ( 4:00:09) wat die podium gedeel het.
Ironman 70.3 Mosselbaai titelverdediger Bradley Weiss (SA) moes tydens die fietsafdeling die aftog blaas nadat hy vroeër die week met sy gesondheid gesukkel het. Dit was nie die lot van damestitelhouer Emma Pallant-Browne nie, wat met haar naelloop die gaping aansienlik vergroot het om na die eindlint toe te spoed in 4:21:24.
Die Suid-Afrikaner Magda Nieuwoudt het tweede gekom (4:28:02), met die Franse atleet Eloise du Luart wat derde geëindig het (4:45:02). In onderhoude na die wedloop was alle podium-bestygers vol lof oor die kalm see, skilderagtige fietsroete, en toeskouers langs die hardloopbaan wat hulle deur die resies se laaste been gedra het.
Afgesien van naatlose logistieke ondersteuning deur plaaslike verkeers- en nooddienste, het honderde Mosselbaaiers as vrywilligers en beamptes en selfaangestelde rasieleiers gedien om te verseker dat selfs die stadigste Ironman-agteros soos ‘n wenner gevoel het op wedrendag.
Dit was maar die tweede keer dat Mosselbaai die wedren aangebied het; ander SA Ironman-gashere sluit in Gqeberha en Buffalo City in die Oos-Kaap. ‘n Suksesvolle eerste poging in 2022 het daartoe gelei dat die dorp as een van die planeet se top drie Ironman-aanbieders aangewys is.
Die nou wêreldbekende driekamp het in 1978 in Hawaii ontstaan, toe mededingers daaroor gestry het of swemmers, hardlopers of fietsryers die fiksste was.
Vlootbevelvoerder John Collins het ‘n nuwe resies voorgestel om die argument te besleg. Drie afsonderlike byeenkomste – die Waikiki Wildewater Swem, Oahu Fietsresies en Honolulu Marathon – is gekombineer om die Hawaii Ironman Driekamp te skep.
Nou, 45 jaar later, het die Ironman-groep gegroei tot ‘n wêreldwye verskynsel met honderde kompetisies jaarliks in 55 lande. En Sondag het die magte en mense van Mosselbaai saamgespan om ‘n onvergeetlike wedloop vir nagenoeg 2,500 deelnemers te verseker.
Op die foto hierbo: Op die Ironman 70.3 Mosselbaai se damespodium is SA-gesetelde Britse atleet Emma Pallant-Browne saam met Magda Nieuwoudt, links, en Eloise du Luart
Bron: Ironman South Africa