Australië breek ‘n miljard harte

Aus wins cricket world cup

Deur Razeen Gutta

Travis Head het korte mette gemaak met tuisvoordeel toe Australië Sondag die druk gesluk het om hul sesde IKR Krieketwêreldbeker-kroon in Ahmedabad te beklink.

Voor meer as 100,000 Indiese aanhangers, in ‘n land van meer as ‘n miljard mense, het Pat Cummins se manne die toernooi teruggeëis en sukses op die mees verstommende manier gegaps.

Die loot was irrelevant aangesien Rohit Sharma gesê het hy sou in elk geval gekolf het nadat Cummins gekies het om eerste te boul. Die gevolge was egter drasties.

Die kaptein het die toon aangegee boaan die orde, maar het weereens nie daarin geslaag om ‘n goeie 47 in ‘n mylpaalbeurt te omskep nie.

Virat Kohli het daarna op dreef gekom, maar hy het self moes skoert op net 54 lopies nadat Cummins se boulwerk na sy paaltjies gebons het.

Die besoekende kaptein het 2/34 geneem terwyl sy trefkragtige vennoot Mitchell Starc 3/55 gevat het, insluitend die belangrike paaltjie van KL Rahul.

Die Indiese paaltjiewagter het met ‘n veerkragtige 66 van 107 op ‘n moeilike oppervlak die beste telling behaal – en daai einste oppervlak het soveel makliker gelyk die oomblik toe Australië uitgeloop het om 241 te jaag.

Jasprit Bumrah het twee slagoffers met die bal geëis, terwyl Mohammed Siraj en Mohammed Shami ook elk ‘n paaltjie geneem het. Maar Australië was eenvoudig te goed.

Head sal al die voorblaaie annekseer, want sy merkwaardige kolfbeurt het gevolg op ‘n puik vangs in die veld om Sharma te laat loop.

Die aanvangskolwer het van begin tot amper-einde gekolf en 137 van net 120 balle geslaan. Marnus Labuschagne het sy man gestaan aan die oorkant met ‘n belangrike 58 nie uit nie om die Aussies oor die lyn te stoot met sewe boulbeurte in pag.

Om hul rekord verder te verbeter met ‘n sesde titel was een ding, maar om dit te doen nadat hulle in die ligafase platgemoker is, was iets waarop Cummins en Kie ongelooflik trots kan wees.

Indië was onoorwinlik van wedstryd een tot en met die halfeindstryd; hoewel een wedstryd nie ‘n nasie definieer nie, sou hierdie nederlaag sekerlik die gasheerland se gees demp.

Australië sal vir nog twee weke op die subkontinent kuier, aangesien die finaliste weer ontmoet vir ‘n T20-reeks van vyf wedstryde wat Donderdag begin.

Op die foto hierbo: Australië vier jul sege

Bron: @cricketworldcup