Opinie – ZUKILE MAJOVA
Ek het altyd gedink die aanstelling van lede van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu) om vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie te werk, sou die laaste spyker in die doodskis van die OVK se geloofwaardigheid wees.
Selfs meer skokkend is die OVK se verdediging van sy reg om ANC alliansievennote in diens te neem om verskeie stemlokale te bestuur en daar toesig te hou.
In die klein dorpie KwaBhaca is dit normaal om ‘n onderwyser eendag in ‘n Sadtu T-hemp te sien, die volgende dag in ‘n ANC-hemp, en ‘n OVK-hemp op stemdag.
Aangesien ons oorweldigend vir die ANC stem, was daar nog nooit veel teenkanting nie, maar ons weet dit is verkeerd.
Die OVK sê hy neem nie lede van politieke partye in diens nie. Maar sy definisie daarvan sluit nie vakbondlidmaatskap in nie.
Sadtu is nie net ‘n vakbond nie; as lid van die vakbondfederasie Cosatu is dit saam met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party deel van die ANC se regerende drieparty-alliansie.
Sommige Sadtu-lede is ook lede van die ANC. Sadtu-leiers word gereeld ANC LPs en selfs lede van die kabinet. Die OVK kan net sowel openlik ANC-lede werf.
As lid van Cosatu het die onderwysersvakbond reeds sy steun aan die ANC toegesê en, nog daarby, hom daartoe verbind om sy hulpbronne en lidmaatskap te gebruik ter bevordering van die ANC.
Danksy die Cosatu verbintenis sit Sadtu in gereelde bilaterale vergaderings met die ANC om te beplan en strategieë te bedink om verkiesings te wen.
Op stemlokaalvlak beteken dit die ANC het nie slegs twee party-agente soos deur die wet vereis nie, maar politieke alliansievennote onder die voorsittende beamptes in meer as 23,000 stemlokale.
Op die oog af ondermyn dit die geloofwaardigheid van die proses, veral vir kiesers in spesifieke stemdistrikte wat bekend is met die lojaliteite van sogenaamde OVK-amptenare.
En hoekom, in ‘n land met meer as 500,000 werklose kollege-gegradueerdes, word onderwysers by die OVK aangestel?
Die EFF het vir Sadtu kwaad gemaak deur hierdie kwessie te lug, maar die OVK belet enigeiemand om Sadtu onderwysers te teiken.
Sadtu sê dit lyk asof die EFF nie tussen ‘n vakbond en ‘n politieke party kan onderskei nie.
“Nie Cosatu of Sadtu is politieke partye nie. Die wet verbied slegs dat persone wat senior posisies in politieke partye beklee as verkiesingsbeamptes aangestel word,” het Sadtu in ‘n verklaring gesê.
Die vakbond sê dit grens aan haatspraak wanneer die reg van hul lede om vir die OVK te werk bevraagteken word.
“Lede van vakbonde, insluitend Sadtu, het ‘n wetlike reg om as verkiesingsbeamptes aangestel te word indien hulle aan die vereistes voldoen.
“Die EFF se uitsprake rakende Sadtu-lede, asook lede van vakbonde wat as verkiesingsbeamptes deelneem, grens aan haatspraak, onbillike diskriminasie en aanhitsing om genoemde persone te benadeel.”