Kaapse leerder deur medestudent doodgesteek

Cape flats high school

Deur Buziwe Nocuze

Die mense van Samora Machel township in Kaapstad is in rou nadat ‘n Graad 11 leerder aan die Hoërskool Zisukhanyo deur ‘n Graad 10 leerder doodgesteek is ná ‘n hewige rusie.

‘n Leerder by die skool, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het gesê: “Ek weet nie waaroor hulle baklei het nie, maar ek het gehoor dit het alles met dagga te doen en dat die verdagte altyd die slagoffer geterg het omdat hy so lank is.”

Ná ‘n aanvanklike rusie het die verdagte die toneel verlaat, maar het die volgende dag teruggekeer, gewapen met ‘n mes.

Ooggetuies het Woensdagoggend berig dat hulle die twee studente weer sien stry het. Oomblikke later het die situasie handuit geruk en verskrikte gille het die lug geklief.

Die leerder het teruggestorm na die toneel en ontdek die slagoffer lê leweloos in ‘n plas bloed, met ‘n dodelike steekwond aan sy nek.

Die tydsberekening van die tragedie, tydens eindeksamen, het bygedra tot die tieners se stres.

“Die voorval het ons diep geraak … dit was sleg om paramedici binne die skoolgronde te sien,” het die leerder gesê. “Ons het gehoop hulle gaan hom help om te oorleef, maar die wond was diep.”

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, het gesê: “Dit is ’n tragiese saak … met een kind noodlottig gewond en nog ‘n kind wat kriminele aanklagte in die gesig staar.”

Adjudant-offisier Joseph Swartbooi, SAPD woordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê: “Met aankoms by die skool het die polisie op die liggaam afgekom van ‘n 19-jarige wat ‘n steekwond in sy nek opgedoen het. Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar; die verdagte het van die toneel gevlug en moet nog in hegtenis geneem word. Die SAPD ondersoek ‘n moordsaak.”

Op die foto hierbo: Hoërskool Zisukhanyo, waar ‘n leerder gesterf het nadat ‘n argument in ‘n mes-aanval ontaard het

Bron: Buziwe Nocuze