Vier dood in nog ‘n Gqeberha massaskietery

5th Gqeberha mass shooting

Deur Anita Dangazele

Vier mense van die gemeenskap van Kwadwesi in Gqeberha is Sondagaand doodgeskiet, terwyl ‘n vyfde slagoffer – wat geskiet is toe hy by sy huis aangekom het – in die hospitaal behandel word.

Volgens polisie-inligting is ‘n man in sy 40s Sondagaand net na 9nm deur ‘n vriend by sy huis afgelaai.

Toe die man by sy huis instap, het twee verdagtes vanuit die donker verskyn, die voordeur oopgedruk en die man in sy bors en arm geskiet.

Intussen, in dieselfde straat, is die lyke van drie mans en een vrou van tussen 19 en 24 jaar oud met skietwonde ontdek in ‘n krot aan die agterkant van ‘n huis.

Polisiewoordvoerder Kolonel Priscilla Naidu het bevestig dat die twee verdagtes glo vir beide voorvalle verantwoordelik is.

Naidu het gesê die name van die slagoffers sal bekend gemaak word sodra ‘n formele identifikasieproses afgehandel is.

Dit is die vyfde bekende voorval vanjaar in Nelson Mandelabaai waar vier of meer mense hul lewens in ‘n massaskietery verloor het. Altesaam 27 mense is dood tydens die vyf voorvalle.

Agt mense is tydens ‘n 50ste verjaardagviering op 29 Januarie doodgeskiet.

Vier mense is op 12 Februarie tydens ‘n huispartytjie vermoor.

Ses mense is op 11 Julie by ‘n vermoedelike dwelmnes vermoor.

Vyf mense is op 17 September in Gelvandale doodgeskiet.

Gqeberha Polisie kon vinnig na die vorige vier voorvalle arrestasies maak.

Luitenant-generaal Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het gemeenskappe versoek om saam met die polisie te werk om diegene op te spoor wat verantwoordelik was vir Sondag se skietery.

“Die oortreders wat hierdie verskriklike misdaad gepleeg het is steeds op vrye voet en ons ondersoekers is op soek na die verdagtes. Die bystand van die gemeenskap is van kardinale belang om ons te help om die gebeure wat tot hierdie tragedie gelei het uit te pluis,” het hy gesê.

Die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade in Gqeberha ondersoek ‘n saak van vier aanklagte van moord en een poging tot moord.