En toe’s daar vier…

Rohit Sharma

Deur Razeen Gutta

Die ligafase is verby en die IKR se Krieketwêreldbeker semi-finaliste is net twee oorwinnings verwyderd van glorie.

Rangleiers Indië het bo-aan die tabel geëindig, en dit met styl. Onoorwonne, met hul orde slaggereed, het die gashere Sondag hul ligaveldtog afgesluit met ‘n 160-lopie oorwinning oor Nederland.

Hulle het eerste gekolf in vyf van hul wen-wedstryde en tweede in vier; hiermee het Indië bewys hulle span beskik oor die balans om die toernooi te wen.

Hul mees naelskraap wedstryd tot dusver was egter teen Nieu-Seeland. En die Kiwi’s stel glad nie daarin belang om Woensdag in Mumbai afgeransel te word nie.

Herinneringe aan Old Trafford sal die besoekers met vertroue vul: in 2019 het hulle die kompetisie se eindstryd gehaal ten koste van die manne in blou, nadat die laaste vier teen mekaar te staan gekom het.

Kan hulle dieselfde doen en kyk hoe die gashere onder druk verbrokkel, of sal Bombaai se blou leër van ondersteuners Indië oor die lyn stoot?

In halfeindstryd nommer twee pak die drukvrye Proteas magtige Australië.

Tydens hul vorige wedstryd het Suid-Afrika ‘n massiewe oorwinning van 134 lopies behaal. Maar sedertdien het die Aussies op dreef gekom en lyk nou weer soos die vyfmalige kompetisiewenners wat hulle is.

Australië is slegs deur Indië en Suid-Afrika in hul veldtog geklop, en het dus sewe oorwinnings aangeteken.

Australië sal hul bes probeer om ‘n Proteas-span wat baie gemakliker lyk as hul tweede kolf in die stof te laat byt, so die loot in Kolkata Donderdagoggend is uiters belangrik.

Albei halfeindstryde skop om 10.30vm regstreeks op SuperSport af, met die eindstryd wat op Sondag 19 November plaasvind.

Op die foto hierbo: Rohit Sharma

Bron: @criccrazyjohns