Gaza se grootste hospitaal se brandstof het opgeraak en sy dokters is onbereikbaar terwyl Israeliese magte die fasiliteit omsingel.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Saterdagaand gesê hy het kontak met sy verteenwoordigers by Al-Shifa Hospitaal verloor, en het “ernstige vrese” uitgespreek oor die veiligheid van tienduisende mense wat daar skuiling soek.
In reaksie op die situasie het Hamas gesê dat hulle onderhandelinge opgeskort het om gyselaars wat op 7 Oktober gevange geneem is vry te laat.
Hamas gesondheidsbeamptes het laat Saterdagaand beweer dat twee vroeggebore babas in die hospitaal dood is na ‘n kragonderbreking. Reuters het later foto’s gepubliseer van 15 pasgebore babas wat langs mekaar in twee beddens neergelê is in ‘n desperate poging om hulle warm en lewendig te hou nadat hul broeikaste krag verloor het.
Israel het Sondag gesê hulle sal help om babas vanaf Al-Sjifa na ‘n “veiliger hospitaal” te skuif.
Bo en behalwe die 1,500 pasiënte is daar glo ongeveer 20,000 mense wat skuiling soek teen die oorlog, aangesien die hospitaal tot nou toe as veilige hawe beskou is. Personeel werk tans onder aanhoudende bombardement van die Israeliese weermag – sonder krag, kos of skoon water.
“Shifa is beleër: niemand kan uitkom nie, en niemand kan inkom nie,” het Dr Marwan Abu Sada, hoof van chirurgie, aan die Guardian gesê. “Dit is gevaarlik, selfs vir die mediese personeel, om by die venster uit te kyk. Ons is doodbang vir die skietery,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat al die pasiënte en mense wat binne skuil weggeskuif is van vensters af om hulle teen skerpskutters te beskerm.
Behalwe vir Al-Shifa is Gaza se tweede grootste hospitaal, Al-Quds, ook sonder krag en lank nie meer operasioneel nie.
Na raming is meer as 12,000 mense dood in Gaza sedert Hamas se 7 Oktober aanval op Israel.
Israeliese premier Benjamin Netanyahu het Sondag weer sy verbintenis tot die oorlog benadruk en enige moontlikheid van ‘n wapenstilstand uitgesluit.
“Die oorlog [teen Hamas] vorder met volle krag en met een doel: om te wen. Daar is geen alternatief vir oorwinning nie.”
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Pasgebore babas is langs mekaar neergelê in ‘n poging om hulle aan die lewe te hou nadat die hospitaal se kragtoevoer verbreek is
Bron: Reuters