Bulle hou Suid-Afrika op die VRK-telbord

URC rugby

Deur Lucky Vince Pienaar

➤ Dis frustrerend om te sien hoe die Sharks wedstryd na wedstryd beginnersfoute maak. Sharks Rugby, reeds aan’t sukkel onder Neil Powell, het niks beter gevaar nadat John Plumtree by die afrigtingspan aangesluit het nie.

Om teen Zebre te verloor moet ‘n laagtepunt vir die Sharks wees. Geen wonder die Zebre-spelers het na die wedstryd malgegaan nie. Dit is die eerste oorwinning vir Zebre Parma ná 28 wedstryde.

Die Sharks het hulself geen gunste gedoen gedurende die wedstryd nie, gekroon deur ‘n rooi kaart vir slot Hyron Andrews vir ‘n ooglopende spies-duik in die wedstryd se doodsnikke.

Dit kan beswaarlik erger word vir die Sharks, want hulle hang reeds heel onder op die VGK-ranglys.

➤ Dank die hemel vir die Bulle. Ná vier wedstryde deel hulle die puntelys se boonste sport met Glasgow Warriors. Veteraan-afrigter Jake White moes baie tevrede wees dat sy span stadig maar seker vir Cardiff oorheers het in alle fasette van die spel, en dis ‘n plesier om te sien hoe Chris Smith die nommer 10-posisie sy eie maak.

➤ Benetton Rugby beur voort met hul wenmaniere. Die Stormers kan net hulself blameer dat hul dissipline hulle in die steek gelaat het. Soos altyd was Evan Roos voor in die koor. Haai, Evan! Daardie gaping gelaat in die Springbokspan met Duanne Vermeulen se uittrede? Jammer, man, jou kanse om dit te verdien verdwyn met elke vloermoer.

➤ Sou dit nie wonderlik wees as die Leeus hul loop kon loop nie? Hulle het dalk net die lae Scarlets met een enkele punt geklop, maar die manier waarop hulle vir die volle 80 minute aanhou veg het, was ‘n plesier om te aanskou. Henco van Wyk het die wendrie in die laaste minuut gedruk.

Zebre (0 drieë) 12-10 (1 drie) Sharks

Cardiff (2 drieë) 12-18 (2 drieë) Bulle

Benetton (2 drieë) 20-17 (3 drieë) Stormers

Scarlets (2 drieë) 23-24 (3 drieë) Leeus

Op die foto hierbo: Embrose Papier-tellings vir die Bulle

Bron: SA Rugby