David Scott, ook bekend as The Kiffness, het hom tydens sy Amerikaanse toer in ‘n moeilike situasie bevind nadat hy nie een keer nie, maar twee keer beroof is.
Die gewilde muskiekmedewerker (bekend daarvoor dat hy nie net deuntjies maak saam met mensekunstenaars nie, maar ook met die bure se kat) moes sy vertoning in Detroit kanselleer nadat boewe toegeslaan het.
Scott se toer het in September in Europa afgeskop en hy het einde Oktober na die VSA gereis.
Hy het in Washington en Philadelphia opgetree, en is selfs deur Whoopi Goldberg in New York besoek. Sy planne het egter lelik begin skeefloop na hy in Detroit aangeland het.
Volgens Scott het hy geglo hy het sy bussie op ‘n veilige plek geparkeer, net om te ontdek dat daar by die voertuig ingebreek is. ‘n Beduidende hoeveelheid toerusting – ter waarde van sowat R100,000 – is uit die voertuig gesteel.
Om sake te vererger, was een van Scott se werknemers besig om oorblywende waardevolle items uit die bussie te verwyder toe ‘n ander dief hom genader het en die voertuig se sleutels geëis het.
Die dief het toe gebruik gemaak van die gebreekte venster en probeer om nog van Scott se besittings te boef.
Gelukkig is die tweede oortreder op heterdaad betrap. Scott het die besonderhede op X gedeel en gesê: “Dit word erger… Ons merch ou was besig om goed wat in die motor agtergebly het uit te haal, toe iemand probeer het om die sleutels by hom af te vat, maar hy het weggehardloop en ons het die polisie gebel. Gelukkig het hulle die dief aangekeer terwyl hy besig was om die kar te plunder. Ons arme merch ou ly aan skok.”
Scott het sy aanhangers in Detroit om verskoning gevra omdat hy die vertoning moes kanselleer weens die gesteelde toerusting.
Hy het gesê om ‘n nuwe bussie, nuwe toerusting en polisieverslae uit te sorteer, was die rede dat hy nie betyds vir die optrede kon voorberei nie.
“Ek voel veiliger in Suid-Afrika, tbh (‘om eerlik te wees’),” het hy op X geskryf. Gelukkig kon die groep Woensdagaand in Chicago optree.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: The Kiffness en Whoopi
Bron: X