Suid-Afrikaners loop die gevaar om korrupsie en die plundering van staatshulpbronne as nuwe normaal te aanvaar.
En jy kan niemand kwalik neem nie.
Daar gaan skaars ‘n week verby sonder dat ‘n groot skandaal deur die media opgegrawe word – en niemand word daarvoor vervolg nie.
Jy sou verwag dat kiesers wat deur die staat in die steek gelaat voel, hul stemmag sou gebruik om die beweerde plunderaars te straf. Maar nee…
Bewerings van top ANC-politici betrokke by ‘n mislukte poging om ‘n fooitjie van R500 miljoen in te vorder – van wat veronderstel was om ‘n R5 miljard-staatskontrak te wees – het geen openbare verontwaardiging veroorsaak nie. Inteendeel.
Dit is asof die bevolking gevoelloos geword het. Ons het dit als vantevore gehoor.
Mthuzi Mdwaba, uitvoerende hoof van Thuja Capital, beweer ANC sekretaris-generaal Fikile Mbalula, minister van finansies Enoch Godongwana, minister van hoër onderwys Blade Nzimande, en minister van arbeid Thulas Nxesi het saam met tussengangers opgetree om onwettig vergoed te word deur ‘n WVF (werkloosheidsversekeringsfonds) kontrak wat sy maatskappy sou ontvang.
Ten spyte van so ‘n groot skandaal, bo en behalwe vele ander, het die ANC ‘n oorwinning behaal om sy twee wyke in die jongste tussenverkiesings in Mpumalanga en Limpopo te behou. Ja, dit is grootliks landelike provinsies en dus geil jagvelde vir die ANC.
Maar wat het die opposisie gedoen om voordeel te trek uit hierdie ANC eie-doele?
Die DA sê die toekoms is ‘n sogenaamde “veelpartyhandves” vir Suid-Afrika. Die koalisie sal egter selfs op tussenverkiesingsvlak nog geen impak maak nie.
Maar die koalisie wys nuwe krake, met die DA en ActionSA wat kopstamp in die Stad Johannesburg en Tshwane.
Daar is nou oproepe vir president Cyril Ramaphosa om in te gryp en Johannesburg te red van die koalisie-chaos wat daartoe gelei het dat Al Jama-ah die burgemeesterskap oorgeneem het met slegs 0.9% van die stemme.
Hoe dit toegelaat is om te gebeur, in ‘n raad van R80 miljard wat verantwoordelik is vir meer as ses miljoen mense, is ‘n duidelike aanduiding dat ons swak regering en korrupsie as die nuwe normaal aanvaar.
Die stad hink van een ramp na die volgende, met die hooggeregshof wat vandeesweek gesê het die aanstelling van munisipale bestuurder Floyd Brink was onreëlmatig en ongeldig.
Wat werklik verbasend is, was die versuim van Ramaphosa om die beweerde betrokkenheid van drie kabinetslede en die sekretaris van die ANC by so ‘n skadelike skandaal aan te spreek toe hy Woensdagaand die Nasionale Dialoog oor Anti-Korrupsie by Birchwood Hotel toegespreek het.
Op die foto hierbo: ANC sekretaris-generaal Fikile Mbalula