Taxi-staking chaos kos matrieks hul biblioteek

Matrics in dire straits

Deur Buziwe Nocuze

Matrikulante in Philippi, Kaapstad, worstel met twee uitdagings terwyl hulle vir hul eksamen voorberei.

Hulle sukkel nie net met beurtkrag nie, maar het ook nie toegang tot die Brown’s Farm Biblioteek nie. Die biblioteek is tydens die Santaco-taxistaking in Augustus gevandaliseer en geplunder.

Die staking het die lewens van baie inwoners ontwrig wat hul besighede, voertuie en selfs geliefdes verloor het. Dit het ook die studente van ‘n uiters belangrike hulpbron beroof.

Volgens matrikulant Xola Jilingisi het die sluiting van die biblioteek rampspoedige gevolge op hul studies gehad.

“Die biblioteek was baie behulpsaam omdat ons die inligting kon kry wat ons nodig gehad het om vir ons eksamens voor te berei. Ons het ook daar bymekaargekom om skoolwerk te bespreek. Ons kan dit nie meer doen nie,” het Xola gesê. 

“Die meeste leerders het nie genoeg spasie in hul huise om te lees of ‘n groot groep te akkommodeer nie. Die biblioteek was die perfekte plek vir ons.”

Nog ‘n student, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het die gerief wat die biblioteek gebied het, beklemtoon.

“Ek word deur ‘n enkelma grootgemaak. Ek hoef haar nie vir vervoergeld te gevra het as ek biblioteek toe is nie, maar dit het alles verander nadat gemeenskapslede ons biblioteek geplunder en gevandaliseer het,” het sy gesê.

Om na ander gebiede te reis om biblioteke te gebruik, is nie vir hulle ‘n veilige opsie nie. Ten spyte van hierdie probleme bly hulle vasbeslote om hul gesinne trots te maak.

Raadslid Patricia van de Ross, burgemeestersraadslid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, het die omvang van die skade aan die biblioteek beskryf.

“Vroeër in Augustus het plunderaars by die biblioteek ingebreek en voortgegaan om rekenaartoerusting en toestelle te steel. Hulle het ‘n uur later teruggekeer en deure en vensters gebreek. Die biblioteek is ongelukkig gesluit tot verdere kennisgewing,” het Van de Ross gesê.

Daar is nog geen tydlyn vir wanneer die skade reggestel sal word, of wanneer die biblioteek sal heropen nie.

Op die foto hierbo: Brown’s Farm se biblioteek bly gesluit ná die plundering en vandalisme wat tydens die Santaco-taxistaking plaasgevind het

Bron: Buziwe Nocuze