Wêreldbekerkragtoer kom tot gepaste einde

Siya has the last say

Deur Lucky Vince Pienaar

Toe Siya Kolisi die Wêreldbeker een laaste keer omhoog hou tydens die Springbokke se aandoen in Oos-Londen het hy hulde gebring aan die mense van Suid-Afrika.

Hy het gesê hulle het regdeur die Wêreldbeker-toernooi vir die mense by die huis gespeel, maar hulle het nooit die ontvangs verwag wat hulle gekry het nie.

“As ‘n Springbok-span wou ons Suid-Afrikaners hoop gee, maar diegene wat ons terug verwelkom het by OR Tambo met ons terugkeer vanFrankryk, langs die trofeetoerroetes en by ander lughawens, het ons ook hoop gegee,” aldus Kolisi, soos berig deur SA Rugby.

“Dit het ons aangespoor om aan te hou bewys dat, ongeag jou opvoeding, ras, geloof en agtergrond, jy enigiets kan bereik.”

Dit was die einde van die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog wat op 10 September teen Skotland in Marseille, Frankryk begin het, en in Oos-Londen, Oos-Kaap, begroet is deur juigende skares wat die strate volgepak het.

En kaptein Siya Kolisi het die laaste woord ingekry.

“Die Springbokke sal dalk eers volgende jaar weer op die veld wees, maar wat ons oor die laaste paar dae geleer het sal ons aanhou dryf as ‘n span,” het hy gesê.

“Dankie, Suid-Afrika. Ons is lief vir julle.”

Op die foto hierbo: Siya Kolisi met die Web Ellis-trofee in Oos-Londen

Bron: Springbokke