Deur Dylan Bettencourt
Die president van Ultimate Fighting Championship (UFC) Dana White het aangekondig dat Dricus du Plessis teen kampioen Sean Strickland vir die gordel sal kompeteer op 20 Januarie 2024 by UFC 297.
Die aanhangers wat sy loopbaan tot dusver gevolg het, weet dat hy 20 oorwinnings en net twee nederlae gehad het, maar weet hulle almal hy’s verantwoordelik vir die sêding ‘Hulle weet nie wat ons weet nie’?
Dis wat die 29-jarige gesê het ná sy skoksege oor Robert Whittaker vroeër vanjaar.
Die wenner van dié geveg is gesien as die een wat volgende in aanmerking sou kom vir die middelgewigtitel, wat destyds aan Israel Adesanya behoort het.
Toe Dricus dus die geveg wen, het dit gelyk asof hy bestem was om sy bakleiery met Adesanya af te handel.
En hy het die kans gehad om dit te doen nege weke ná sy oorwinning oor Whittaker, maar ‘n besering het hom beroof van ‘n kans op goud.
Die twee het maande lank heen en weer kopgestamp oor Dricus se opmerkings dat hy ‘n “regte Afrikaan” is.
Dricus het beweer dat hy die eerste “Afrika-kampioen” sou word ten spyte van Israel Adesanya, Kamaru Usman en Francis Nganuou, wat destyds almal gordels verower het.
Maar die Suid-Afrikaner het beweer dat hy die enigste een was wat elke dag Afrika-lug beleef en inasem – wat waar is, aangesien die ander drie oorsee gesetel is.
Die situasie het egter lelik geraak met rasse-ondertone wat die wêreld vol versprei is.
Adesanya het onlangs die gordel aan Strickland moes afstaan, wat dalk die grootste verrassing in UFC-geskiedenis is.
Met reg het die voormalige kampioen gesê hy moet ‘n bietjie verlof neem om te herstel.
Baie het vermoed Dricus het sy kans om vir die gordel te veg ná sy besering verloor, maar Dana White het anders besluit.
Op 20 Januarie in Toronto, Kanada, kan Dricus die eerste Suid-Afrikaanse UFC-kampioen word, en hy sal dit ongetwyfeld vier deur te sê: “Hulle weet nie wat ons weet nie!”
Op die foto hierbo: Dricus du Plessis
Bron: X