Deur Zukile Majova
Elektrisiteit minister Kgosientsho Ramokgopa het ‘n sappige Kersbonuswortel voor Eskom-werknemers se neus geswaai as beloning vir ononderbroke kragtoevoer hierdie feesseisoen.
Die belofte ignoreer die feit dat Eskom-personeel in Junie 2023 ‘n 7%-loonverhoging van hul werkgewer ontvang het. Die salarisverhoging is deurgedruk selfs al het Eskom sy grootste verlies ooit – R24 miljard – aangemeld.
Gedurende die afgelope jaar het Eskom gesê daar was 280 dae van beurtkrag, wat die ekonomie na raming R300 miljard en duisende werkgeleenthede gekos het.
Ramokgopa het Maandag Kersbonusse aan werkers by Mpumalanga se Arnot-kragstasie belowe, waar die maatskappy teen net 48% van sy kapasiteit werk.
“Gaan voort met die goeie werk. Hoe beter die prestasie, hoe beter die aansporing wat in jou sak sal beland.
“Sodra julle die vordering en energieverbetering behaal wat ons benodig, sal dit julle gesinne gelukkig maak en julle sal ‘n beter Kersfees kan geniet,” het hy gesê.
Middelburg se 51 jarige steenkoolkragsentrale het onlangs agt lekkasies in ketelpype ondervind.
Ramokgopa het gesê dit is heeltemal anders as die norm van net een so ‘n lekkasie tydens ‘n 12 maande siklus.
“Vir ons om hierdie probleem op te los, teiken jy kragstasie per kragstasie, eenheid per eenheid, en ek is seker dat die bydrae van arbeid, die bydrae van bestuur die sleutel tot die oplossing van hierdie probleem is.”
Ná agt dae sonder beurtkrag het die onderbrekings hervat en saamgeval met die aanvang van die matriekeksamen.
Selfs al is daar geen beurtkrag gedurende die dag wanneer die Klas van 2023 eksamen skryf nie, hervat die stroomonderbrekings daagliks na 4nm en gaan voort deur die nag. Dit beteken studiesessies word onderbreek en duisende leerders word gedwing om by kerslig te studeer.
“Ons is op koers om die intensiteit van beurtkrag aansienlik te verminder. Daar was ‘n tydperk van agt dae sonder beurtkrag en toe het ons die probleem ondervind van 11 eenhede wat buite werking was as gevolg van ketelpyplekkasies, maar daardie eenhede kom terug in werking,” het Ramokgopa gesê.
Hy het gesê die kragvoorsiener moet desperaat ‘n oplossing vind om transmissie teen ‘n geraamde koste van meer as R390 miljard te befonds en uit te voer.
Op die foto hierbo: Minister Ramakgopa besoek kragstasies en maak beloftes