Ma se kind! Kaptein Moroasui maak sy mense trots

Terwyl Mzansi die Springbokke se sege landswyd vier, het Victor Kgomoeswana – hoof van bemarkings en kommunikasie aan die Universiteit van Limpopo – ‘n Rugby Wêreldbeker-storie gedeel wat effens van die sportnorm afwyk.

Kgomoeswana het hulde gebring aan ‘n vrou afkomstig van die klein dorpie Ga-Mphahlele in die Capricorn-distrik van Limpopo wat al dekades lank dien as inspirerende Afrikaans-onnie by die plaaslike laerskool.

Maar “Mev Moroasui” mag nou ook spog daaroor dat sy die ma is van Katlego Moroasui, die man aan die stuur van die Emirates-vlug wat die Bok-span veilig tussen Parys Charles de Gaulle en OR Tambo Internasionale Lughawe vervoer het.

Langs ‘n collage van foto’s, insluitend ‘n selfie met die ma van die oomblik, het Kgomoeswana geskryf: “Wat het hierdie wonderlike vrou, Mev Moroasui, met die #RWC2023 #Springboks2023 #rwcchampions2023 te doen?

“Sy is die ma van die vlieënier wat die Webb Ellisbeker en die Springbokke vervoer het. Die naam van hierdie vlieënier is Katlego Moroasui.”

Hy het verduidelik dat Katlego en sy broer, Matsoku Moroasui, van sy geboortedorp afkomstig is – ‘n dorpie wat so onbenullig is dat dit in sommige kringe as Zondernaam bekendstaan.

“Ek het ‘n paar weke gelede hulde gebring aan hierdie fenomenale vrou omdat sy my en baie van my maats help vorm het in haar rol as ons Afrikaans-onderwyser by Laerskool Mashite. Min het ek geweet dat sy kort ná ons reünie by haar huis, haar seun sou verwelkom as die vlieënier wat die oorwinnaars van die rugbywêreld terug gebring het.

“Welgedaan, mense van Mashite! Die #SpringbokTrophyTour het dalk jul provinsie Limpopo oorgeslaan, maar een van julle boorlinge het dit alles moontlik gemaak. Dankie, Kaptein Katlego Moroasui, dat jy ons dorpie op die wêreldkaart geplaas het.”

Kgomoeswana het gesê Mev Moroasui was sy Graad 7 Afrikaans-onderwyseres en gee tot vandag toe nog klas by die dorpskooltjie. Hierdie lewenslange roeping het duidelik ‘n invloed gehad op haar seun se opgang van plattelandse seuntjie tot top vlieënier.

Katlego het ‘n nasionale diploma in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria verwerf, voordat hy in 2005 sy vlieënierslisensie van 43 Air School verwerf het.

Nadat hy as medevlieënier vir Solenta Aviation en die Rooi Kruis se Air Mercy diens gewerk het, het hy sewe jaar in die stuurkajuit van nasionale lugredery SAA deurgebring. Sedert Maart 2019 dien hy as voltydse eerste offisier by Emirates – ‘n amptelike vennoot van Rugby Wêreldbeker 2023.

Die laaste been van die vlug wat die wenspan veilig huis toe gebring het, het op 31 Oktober uit Dubai Internasionale Lughawe vertrek en om 10.33vm in Johannesburg aangeland.

By landing is die vliegtuig met ‘n feestelike waterkanonsaluut begroet. En terwyl Suid-Afrikaners hul voorberei het om die Bokke in stede regoor SA met groot gejuig te verwelkom, is ‘n spesiale klein partytjie in Ga-Mphahlele gehou, ter ere van ‘n merkwaardige ma en seun wat Limpopo trots maak.

Saamgestel deur Esther de Villiers

Op die foto hierbo: Victor Kgomoeswana en Mev Moroasui – moeder van Kaptein Katlego Moroasui, die Springbokke se vlieënier

Bron: Facebook