Die enigste Suid-Afrikaanse burger wat op 7 Oktober deur Hamas as gyselaar geneem is, is die 62-jarige Adrienne Siegel, bekend aan haar geliefdes as Aviva.
Aviva en haar man Keith, 64, is onder die sowat 220 mense wat deur gewapende mans uit Israel ontvoer en teruggeneem is na Gaza, waar hulle gevange gehou word.
Meer as 1,400 Israeliese burgerlikes is op daardie dag uitgemoor.
Aviva en Keith is die oggend van die aanval wakker gemaak deur die geluid van sirenes. Volgens die Guardian het hulle in hul slaapklere na die huis se beveiligde kamer gehaas en hulself daarbinne toegesluit.
Dit was destyds niks buitengewoons vir die egpaar, wat reeds vir meer as 40 jaar langs die Israel-Gaza grens woon nie. Hulle was “gewoond aan vuurpyle en missiele wat rondvlieg”, het hul skoonseun, Yuval Baron, aan die publikasie gesê.
7 Oktober was egter geen gewone dag nie. Toe Israeliese magte 30 uur later beheer oor die plaaslike gebied van die militante herwin het, was daar geen spoor van Aviva en Keith nie. “Ons het begin dink ons het twee baie slegte opsies: óf hulle is ontvoer óf vermoor,” het Baron gesê.
Israeliese owerhede het later bevestig dat hulle gevange geneem is.
“Dit was 18 dae gelede, en sedertdien niks, nul, nada,” sê Baron, wat in die noorde van Israel woon. “Ons weet nie of hulle saam is en of hulle hul medikasie byderhand het nie. Ons trane is besig om op te raak, tesame met ons hoop.”
Aviva is ‘n kleuterskoolonderwyseres en Keith werk vir ‘n farmaseutiese maatskappy. Aviva is in Suid-Afrika gebore en bly volgens die SA Sioniste Federasie ‘n burger van die land.
Sy het na Israel geëmigreer toe sy agt jaar oud was.
Keith, weer, is ‘n VSA-Israeliese burger.
Op die foto hierbo: Aviva Siegel is op 7 Oktober uit haar huis in Israel ontvoer
Bron: X