Proteas eet Kiwi’s vir brekfis

Quinton de Kock

Deur Razeen Gutta

Nog ‘n dag, nog ‘n wonderlike Krieket Wêreldbeker-oorwinning vir Suid-Afrika – hierdie keer met 190 lopies teen Nieu-Seeland, wat beteken SA is nou bo-aan die liga-puntelys.

Net soos die Springbokke Saterdag in hul Rugby Wêreldbeker-eindstryd, het die Proteas op pad na die uitklopfase van die IKR Krieketwêreldbeker gemaak: hulle het Nieu-Seeland gerol.

Met die hele land nog op hol oor die Bokke se triomf, het die energie na Indië versprei waar die Proteas nogeens ‘n groot totaal behaal het.

Nadat hy die geleentheid gebied is om eerste te kolf, het Quinton de Kock sy vierde honderdtal van die toernooi geregistreer om Suid-Afrika tot 357/4 aan te help.

Vyftien sesse in die kolfbeurt het beteken dat die Proteas nou die meeste sesse van enige span in een weergawe van die Wêreldbeker-toernooi het (82), met Rassie van der Dussen wat vyf maksimums geslaan het toe hy ook ‘n honderdtal behaal het.

In reaksie hierop kon net Glenn Phillips terugveg met ‘n halfhonderdtal in die middelorde.

Die res van Nieu-Seeland se kolwers het verkrummel ten aanskoue van Marco Jansen en Keshav Maharaj, en is vir net 167 uitgeboul.

Daar is voor die tyd na die kragmeting uitgesien as ‘n taai stryd tussen twee van die toernooi se voorste spanne, maar in plaas daarvan het die Proteas vanaf bal een af oorheers.

Hulle kom Sondag teen gashere en gunstelinge Indië te staan in wat beslis ‘n riller van ‘n wedstryd gaan wees.

Op die foto hierbo: Quinton de Kock

Bron: @ProteasMenCSA