Lionel Messi weer tops

Meester Messi

Deur Razeen Gutta

Kaptein van die Fifa Wêreldbeker wenspan en wyd geag as die beste speler van alle tye, het Lionel Messi vir beide Erling Haaland en Kylian Mbappe verbygesteek en rekords gebreek toe hy sy agtste Ballon d’Or-toekenning Maandag gewen het.

In ‘n emosionele toespraak in Parys het die voormalige Barcelona-staatmaker erken dat dit waarskynlik sy laaste toekenning van die soort sou wees, en teruggekyk na die prestasies wat hom gehelp het om dit te behaal.

“Om wêreldkampioen te wees was fantasties. Maar die waarheid is dat ek nog nooit regtig daaraan gewoond geraak het om toekennings te ontvang en op die verhoog te wees nie,” het hy gesê.

“Ek dink vandag is die laaste keer dat ek dit wen, so dit voel rustiger en ek sal dit op ‘n ander manier waardeer. Ek is verheug om weer hier te wees om hierdie oomblik nog een keer te geniet.”

Terwyl hy sy toekenning aan sy Wêreldbeker-wenspan opgedra het, het Messi ook melding gemaak van die Argentynse legende Diego Maradona, wie se 63ste verjaardag dit sou gewees het.

“Ek het my droom bereik om die Wêreldbeker te wen, maar ek deel dit met almal wat betrokke was. Dit is ‘n geskenk aan die spelers, afrigtingspan en al Argentinië se mense. Ek moet Diego Maradona noem. Waar jy ook al is, hierdie is ook vir jou. Baie geluk met jou verjaarsdag, Diego.”

Erling Haaland, wat tweede op die mansranglys geëindig het, is as die beste doelskieter aangewys, terwyl driemalige wenners Manchester City as mansklub van die jaar bekroon is.

Jude Bellingham het die Kopa-toekenning vir beste jong speler gewen terwyl Emi Martinez as beste doelwagter aangewys is.

Spaanse Wêreldbeker-wenner Aitana Bonmati het die Ballon d’Or-toekenning vir vroue gewen, terwyl haar klub Barcelona as beste vroueklub van die jaar aangewys is.

Op die foto hierbo: Lionel Messi

Bron: @albicelestetalk