Geen Springbokke in droomspan? Geen probleem!

Eben only one in Dream Team

Deur Lucky Maree

Wêreldrugby se droomspan bestaan, nie verbasend nie, uit spelers van Ierland, Nieu-Seeland en Frankryk, met Eben Etzebeth die enigste speler van Suid-Afrika.

Dit lyk soos ‘n reuse vooroordeel teen die Wêreldbeker-kampioene, maar miskien bevestig dit iets wat alle Suid-Afrikaners reeds weet.

Die Springbokke is ‘n span. Hulle het ‘n eenheid en doelgerigtheid waarvan die meeste ander spanne net kan droom. Hulle werk en speel vir mekaar.

Suid-Afrika het nie ‘n Antoine Dupont by wie se altaar die res van die span kniel nie.

Die Springbokke het nie ‘n Johnny Sexton of Owen Farrell waarsonder die span nie kan funksioneer nie.

Jy’s welkom om te wonder hoekom nie een van Suid-Afrika se voorryspelers in die “droomspan” is nie. Jy mag dalk vra hoekom Damian de Allende of Jesse Kriel nie bo Garry Ringrose gekies is nie.

Dit moes beslis ‘n moeilike besluit gewees het om vir Cheslin Kolbe uit te laat.

As jy slotte oorweeg, wat van RG Snyman? As jy flanke oorweeg, hoekom nie Pieter-Steph du Toit nie?

Maar dit maak nie saak nie. Die span, die Springbokke, het die Wêreldbeker vir Suid-Afrika gewen. As Wêreldrugby se droomspan ‘n regte wedstryd moes speel, kan jy wed daar sou baie meer Suid-Afrikaners in hul span gewees het.

Wêreldrugby se droomspan: 1. Cyril Baille (Frankryk) 2. Dan Sheehan (Ierland) 3. Tadhg Furlong (Ierland) 4. Eben Etzebeth (Suid-Afrika) 5. Scott Barrett (Nieu-Seeland) 6. Caelan Doris (Ierland) 7. Charles Ollivon (Frankryk) 8. Ardie Savea (Nieu-Seeland) 9. Antoine Dupont (Frankryk) 10. Richie Mo’unga (Nieu-Seeland) 11. Will Jordan (Nieu-Seeland) 12. Bundee Aki (Ierland) 13. Garry Ringrose (Ierland) 14. Damian Penaud (Frankryk) 15. Thomas Ramos (Frankryk).

Op die foto hierbo: Eben Etzebeth

Bron: Springbokke